Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party en die SABC kom in die hof teen mekaar te staan oor die uitdrukking regering van nasionale eenheid
# AfriForum begin om Suid-Afrika se watergehalte te toets
# En, rugby: ‘n Splinternuwe skakelpaar doen diens vir die Springbokke teen Australië
# Die MK-party en die SABC gaan volgende week na die Hooggeregshof in Johannesburg oor die uitdrukking regering van nasionale eenheid. Die party het verlede maand dringende dokumente ingedien wat dit uitdaag. Hy beweer dit ondermyn die SABC se onafhanklikheid en sy openbare mandaat. MK se leier, Jacob Zuma, betoog Suid-Afrika se huidige politieke opset stem nie ooreen met die definisie van ‘n regering van nasionale eenheid nie, en die publiek word met opset mislei. Die SABC beskryf die bewerings as onhoudbaar en staan die aansoek teen.
# AfriForum het sy jaarlikse program afgeskop om Suid-Afrika se water te toets. In Augustus toets takke landwyd die gehalte van drinkwater en water by suiweringsaanlegte. Die uitslag sal in die burgerlike organisasie se blou- en groendruppelverslag bekendgemaak word. Die Departement van Water en Sanitasie se blou- en groendruppelverslag het verlede jaar getoon 46-persent van drinkwater is mikrobiologies onveilig vir menslike gebruik, terwyl 67,6-persent van alle rioolbehandelingsaanlegte in die land in ‘n hoë of kritieke risiko-kategorie val.
# Die N3-Konsessiemaatskappy sê die N3-tolpad tussen KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng sal vanweë die Vrouedag- langnaweek meer druk verkeer dra. Die bedryfshoof, Thania Dhoogra, sê ‘n toename in verkeer suidwaarts in die rigting van KwaZulu-Natal kan van die middel van die dag verwag word:
# Rugby: Die Springbokke het ‘n splinternuwe skakelpaar vir Saterdag se kragmeting met Australië. Die 34-jarige Cobus Reinach is die skrumskakel en die 22-jarige Sacha Feinberg-Mngomezulu die losskakel. Feinberg-Mngomezulu kry sy eerste kans in die opdrafspan in die openingswedstryd van die Rugby-Kampioenskap in Brisbane. Reinach is opgewonde oor die nuwe vennootskap:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-104-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-396-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Winter is besig om verby te gaan en Suid-Afrika se veldblomme staan binnekort in volle blom. Die Namakwa Nasionale Park in die Noord-Kaap en die Weskus Nasionale Park in die Wes-Kaap bly gewilde bestemmings. In die Noord-Kaap begin Namakwa-gousblomme en meer as drie-duisend-500 blomspesies van vroeg in Augustus tot einde September blom en sorg vir een van die wêreld se mooiste skouspelle. Die Weskus Nasionale Park se Postberg-afdeling is nou oop en bied aan besoekers geleentheid om die asemrowende prag van die blomseisoen te beleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….