Nuus 07:00
BULLETIN 8 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is tevrede met die werk van die ministers in die regering van nasionale eenheid
# Drie mans word tronk toe gestuur vir hul rolle in die Britse betogings
# En krieket: Reën ontwrig die openingsdag van die eerste toets tussen die Proteas en Wes-Indiese Eilande
# Die Presidensie sê president Cyril Ramaphosa is tevrede dat die sewende administrasie onder die regering van nasionale eenheid op die regte voet weggespring het. Ministers wat in die Kabinet dien, is aangestel uit sewe van die tien politieke partye wat die regering vorm. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa is tevrede dat die ministers goed saamwerk om Suid-Afrikaners te dien:
# ActionSA vra vir verbeterde toesig en doeltreffende betaalstelsels by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om korrupsie te voorkom en tydige ondersteuning vir studente te verseker. Die party ondersteun volgehoue hervorming en opdatering van inligting- en kommunikasietegnologie-stelsels. Malebo Kobe van ActionSA vra vir die verwydering van tussengangers om die bestuur van beurse en lenings te verbeter en dus te verseker studente ontvang die nodige hulp sonder vertragings:
# Die DA sê sy koalisie met die Vryheidsfront Plus in Langeberg in die Wes-Kaap is ontbind. Dit volg nadat die DA ‘n dispuut teen die VF Plus verklaar het omdat dié party in Mei nie die koalisie se begroting in die raad wou steun nie. Die DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers, sê dis ʼn wesenlike verbreking van die koalisie-ooreenkoms en het grootliks bygedra tot die vertrouensbreuk tussen die partye:
# Die Gautengse Departement van Onderwys het bevestig die elf leerders wat dood is in ‘n botsing in Carletonville sal vandag aan die Wesrand ter ruste gelê word. ‘n Gesamentlike begrafnisdiens word by die Fochville Secondary School gehou. Die leerders en die bestuurder is in Julie dood nadat hulle taxi deur ‘n bakkie getref is. Die man wat beskuldig word dat hy die ongeluk veroorsaak het, is vrygelaat op borgtog van 20-duisend-rand en word aangekla in twaalf sake van strafbare manslag en een van roekelose bestuur.
# Drie mans is tronkstraf opgelê vir hulle rol in die onluste wat uitgebreek het na die moord op drie jong meisies in Engeland. Derek Drummond, Liam Riley en Declan Geiran het skuldig gepleit op aanklagte van gewelddadige openbare gedrag, oortredings weens rasgedrewe verswarende openbare geweld en brandstigting. Dit volg na die dood van die negejarige Alice Aguiar, sewejarige Elsie Stancombe en sesjarige Bebe King tydens ‘n aanval op ‘n dansklas in Southport. Die vonnisse volg nadat premier Keir Starmer vinnige vonnisoplegging belowe het vir diegene wat by die onrus betrokke was.
# Krieket: Suid-Afrika het 45 vir een op die telbord gehad toe spel weens reën gestaak is op die eerste dag van die eerste toets teen die Wes-Indies op die Queen’s Park Oval in Port of Spain, Trinidad. Slegs 15 boulbeurte kon plaasvind nadat die Wes-Indies se kaptein, Kraigg Brathwaite, die loot gewen en die Proteas eerste laat kolf het. Aiden Markram se paaltjie is platgetrek nadat hy en Tony de Zorzi ʼn vennootskap van 43 aangeteken het. De Zorzi staan op 32 en Tristan Stubbs is onoorwonne op twee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-455-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-388-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….