Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vanaf môre tot Saterdag tussen Lambertsbaai en Kaap Agulhas. Sterk tot stormsterk noordwestewind van tussen 50- en 65-kilometer per uur word verwag en golfdeinings sal na verwagting Vrydagmiddag en Saterdag ses tot agt meter bereik. Die Weerdiens waarsku oor uitdagende omstandighede vir klein vaartuie, ontwrigting by klein hawens of vasmeerplekke asook strandbedrywighede. Inwoners word gemaan om waaksaam en versigtig te bly wanneer hulle in kusgebiede reis.
# Die Stad Kaapstad se Afdeling vir Ontspanning en Parke het met sy jaarlikse Geensny-veldtog afgeskop as deel van ‘n omgewingspoging om bioverskeidenheid aan te moedig en volhoubare tuinmaakpraktyke te bevorder. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste, Patricia van der Ross, sê die plan behels dat gras op sekere plekke nie gesny word nie, veral in openbare groen ruimtes en tuine. Sy sê dit is om ekologiese prosesse te help beskerm om die groei van kenmerkende fynbos aan te moedig:
# En ten slotte: Dit lyk asof straatligte wat heelnag brand blare taaier kan maak en moeiliker vir insekte om te vreet. Wetenskaplikes aan ‘n Chinese universiteit in Beijing het ongeveer 180 bome langs paaie met straatligte in die stad bestudeer. Hulle het gemeet hoeveel lig elke boom kry en toe byna vyf-duisend-500 blare bekyk. Die blare se taaiheid, stikstofvlakke, tanniene en waterinhoud is gemeet, wat die wetenskaplikes ‘n idee gegee het van hoe die bome hulle hulpbronne gebruik. Die ligte het blykbaar ook ‘n uitwerking op die natuurlewe rondom hulle.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….