Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het bevestig onderhandelings is op dreef vir kaptein Siya Kolisi se terugkeer na die Haaie vanaf die Franse klub, Racing 92. Kolisi, wat vir die Haaie gespeel het, het na verlede jaar se Wêreldbekertoernooi ‘n ooreenkoms onderteken om vir drie jaar by Racing 92 aan te sluit. Die ooreenkoms het ingesluit dat die Top 14-klub ʼn oordragfooi betaal om hom uit die res van sy kontrak te koop. Erasmus sê dit sal lekker wees as Kolisi weer in die land speel:
# Vervolgens, krieket: Die eerste van twee toetse tussen Suid-Afrika en die Windies begin vandag in Port of Spain, met die Proteas wat hoop om hul veldtog in die Wêreld-toetskampioenskap op koers te kry. Hulle is tans in die sewende plek. Die Windies is in die negende plek en het pas ‘n toetsreeks in Engeland voltooi, terwyl die meeste Suid-Afrikaners in Desember laas toetse gespeel het nie. Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sê dis toetsspelers se verantwoordelikheid om aantreklike krieket te speel en die formaat lewend te hou.
# Nou is dit die Olimpiese Spele: Miranda Coetzee het ‘n persoonlike beste tyd van 50,66-sekondes gehardloop om tweede te eindig in die heruitdun en vir die 400-meter-halfeindronde vir vroue te kwalifiseer. Daar was teleurstelling in die mans 400-meter-halfeindronde, aangesien beide Lythe Pillay en Zakhiti Nene nie kon deurdring na die eindronde nie. In kanovaart het Hamish Lovemore en Andrew Birkett gevorder tot die halfeindronde van die mans-dubbel-wedvaart oor 500-meter. In die vroue se dubbel-kano-wedvaart oor 500-meter het Tiffany Koch en Esti Olivier die kwarteindronde gehaal.
Die Algeriër Imane Khelif het Janjaem Suwannapheng van Thailand met ‘n eenparige beslissing verslaan in die halfeindronde van die vroue-weltergewig-boks. Sy is een van twee boksers wat op die Spele meeding al het die Internasionale Boksvereniging hulle van verlede jaar se Wêreldkampioenskap gediskwalifiseer omdat hulle nie ʼn geslagstoets kon slaag nie. Khelif pak Liu Yang van China in die eindronde en gaan probeer om Algerië se eerste goue medalje in boks te wen.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die feit dat meer as 40 atlete in Parys positief getoets is vir Covid-19 toon ‘n nuwe internasionale styging in gevalle. Die organisasie sê die virus wat die pandemie veroorsaak het, is steeds in omloop en waarsku lande moet hulle reaksiestelsels opskerp. Maria van Kerkhove van die WGO sê data uit meer as 80 lande toon die persentasie positiewe gevalle het onlangs toegeneem. Sy sê die virus ontwikkel en verander gedurig, wat vir die mensdom ‘n risiko inhou van ‘n meer ernstige virus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….