Nuus 11:00
BULLETIN 7 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid gaan ‘n artikel van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in werking stel
# ‘n Man van Pakistan word aangekla van ‘n huurmoord-komplot op Amerikaanse politici
# En krieket: Die Proteas kom van vandag teen die Windies te staan in hul eerste toets in Port of Spain
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê hy gaan begin om Artikel 57 van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in te stel. Hy gaan ook rondreis om met alle belanghebbers te vergader om hul bekommernisse te verstaan. Artikel 57 handel oor oorgangsmeganismes wat die NGV gaan vereis en sluit die aanstelling van ‘n ministeriële advieskomitee in. President Cyril Ramaphosa het die NGV-wet onderteken, maar dis nog nie uitgevaardig nie. Motsoaledi sê dit kan 15 jaar duur om die NGV in werking te stel.
# Die DA sê hy vra die regering voortdurend om intelligensie-eenhede te vestig om misdaad en wetteloosheid vas te vat. Die party het die polisie gelukgewens met Maandagaand se optrede in Khayelitsha, Kaapstad, waar hulle op ‘n bende transitorowers toegeslaan het. Ian Cameron van die DA sê Suid-Afrikaners word nou reeds te lank deur misdaad gyselaar gehou en het ‘n dringende behoefte aan beskerming deur wetstoepassingsagentskappe:
# Die EFF in Gauteng eis dat die sekerheidsmaatskappye wat in Alexandra ontplooi is en die metropolisiebeamptes wat betrokke was by die dood van sy raadslid, Moshe Mphahlele, onderskeidelik verwyder en geskors word. Mphahlele is Sondagaand in Bramley, Johannesburg, geskiet toe metropolisiebeamptes en privaat sekerheidsmaatskappye vermeende besetters uit blyplekke verwyder het. Dumisani Baleni van die EFF sê die volgehoue teenwoordigheid van die maatskappye hou die gevaar in dat hulle die misdaadtoneel waarby hulle betrek word kan besoedel:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het ʼn man van Pakistan met vermeende bande met Iran, aangekla van ʼn komplot om politieke sluipmoorde op Amerikaanse bodem te pleeg. Die 46-jarige Asif Merchant word beskuldig dat hy probeer het om ʼn sluipmoordenaar in New York te huur om hierdie maand en vroeg in September hooggeplaaste amptenare te vermoor. Volgens berigte was oudpresident Donald Trump een van die teikens. Die FBI-direkteur Christopher Wray sê ʼn komplot wat in die buiteland beplan word om openbare beamptes, of enige Amerikaanse burger te vermoor, bedreig nasionale veiligheid.
# Krieket: Die eerste van twee toetse tussen Suid-Afrika en die Windies begin vandag in Port of Spain, met die Proteas wat hoop om hul veldtog in die Wêreld-toetskampioenskap op koers te kry. Hulle is tans in die sewende plek. Die Windies is in die negende plek en het pas ‘n toetsreeks in Engeland voltooi, terwyl die meeste Suid-Afrikaners in Desember laas toetse gespeel het nie. Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sê dis toetsspelers se verantwoordelikheid om aantreklike krieket te speel en die formaat lewend te hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-582-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-394-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….