Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Verskeie kunstenaars, insluitend die topverkoper sanger en liedjieskrywer, Jesse Clegg, Kamo Mphela, Lebo Mashile en Zoë Modiga gaan Saterdag by die Mej Suid-Afrika 2024-kompetisie optree. Die finaliste sluit in die bemarkingsbestuurder en model Mia le Roux van die Wes-Kaap, ‘n model van Soweto, Taahira Katz, en ‘n regstudent, Onalenna Constantin van Noordwes. Natasha Joubert is die heersende Mej Suid-Afrika. Die media-persoonlikheid Bonang Matheba, is die seremoniemeester.
# ‘n Suid-Afrikaanse kletsrymer wat tans in Los Angeles woon, Nomoya Refiloe Dube, maak hierdie maand haar groot debuut in die MHL en The Fugees-toer. Die toer sluit Lauryn Hill, YG Marley, The Fugees en D.I.O. in. Dit begin Vrydag in Florida en sluit af in Parys, Londen en Amsterdam. Die kletsrymer van Mpumalanga wat as MOYA bekendstaan, maak gereed om haar eerste enkelsnit, Big Boy Gun, vry te stel. Sy sê haar klank is baie veelsydig, meer Karibies, maar klink ook soos country en hip-hop met ʼn bietjie reggae.
# Sewe navorsers van die Universiteit van Kaapstad het beurse van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ontvang vir navorsing. Dit het ten doel om hulle navorsingsbelangstellings te bevorder. Die raad het 303 kwalifiserende aansoeke van oral in die land ontvang en 52 van hulle het beurse ontvang. Een van die wenners is dokter Colleen O’Ryan wat navorsing doen oor die genetika en molekulêre biologie van outisme in Suid-Afrikaanse bevolkings. Nog ‘n wenner is dokter Hlengiwe Madlala wat navorsing doen oor die vermindering van die risiko van kardio-vaskulêre siektes in swanger vroue met MIV.
# Die hoof van die kliniese eenheid van die Inkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal se Departement van Kerngeneeskunde het onlangs internasionale erkenning vir haar werk ontvang. Dokter Bawinile Hadebe het die Best International Abstract-toekenning gekry op ‘n konferensie van die Vereniging van Kerngeneeskunde en Molekulêre Skandering in Toronto, Kanada. Dit is vir haar werk oor servikale kanker en haar toeligting dat dit steeds ‘n wêreldwye gesondheidskrisis is. Sy het ook onlangs die 2023 Discovery-stigting se Fellowship-toekenning ontvang.
# Die Wes-Kaapse regering het vir die Zip Zap-sirkus ʼn nuwe perseel by die Kunstekaap se Plaza-voorhof aangebied. Zip Zap se huur verstryk aan die einde van volgende jaar ná 16 jaar by The Dome in die Stigterstuin. Die stigter, Brent van Rensburg, sê die nuwe Zip Zap Arena sal sirkus-kunste en ander kunsvorms soos drama, ballet, dans en opera bied. Die arena se nuwe ontwerp sal soos ʼn tradisionele sirkustent lyk, maar met ʼn moderne kinkel. Die totale projek sal byna 100-miljoen-rand kos.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….