Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier mense word aangekeer na intimidasie en geweld by ‘n skool in Katlehong
# Die DA sê ‘n tenderomstredenheid van ‘n miljard-rand tref die Gautengse skoolvoedingskema
# En, rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu en Elrigh Louw begin die eerste keer vir die Springbokke
# Vier mense is in hegtenis geneem na dade van intimidasie en geweld by die Laerskool Matshidiso in Katlehong, Ekurhuleni. ‘n Polisiewoordvoerder, Noxolo Kweza, sê die verdagtes, insluitend ‘n pastoor en sy sekerheidswagte, het twee minderjarige kinders na bewering met geweld uit die skool verwyder. Sy sê hulle sal binnekort in die Palm Ridge Landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding, die roekelose hantering van ‘n vuurwapen en intimidasie:
# Die DA moedig die Gautengse Onderwysdepartement aan om op te tree oor ‘n krisis in die skoolvoedingskema. Die party sê die probleme het ontstaan weens ‘n bestrede tender van ‘n miljard-rand weens onbehoorlike verkrygingsprosesse. Hulle eis onmiddelike optrede om seker te maak leerders kry voedsame maaltye wat noodsaaklik is vir hulle onderwys. Sergio Isa dos Santos van die DA sê inspeksies by verskeie skole het onreëlmatige en onvoldoende kosaflewering onthul:
# Die tweepot-aftreestelsel wat in September in werking tree, sal na verwagting Suid-Afrika se huishoudelike besteebare inkomste tot soveel as 79-miljard-rand in die vierde kwartaal van 2024 opstoot en tussen 0,1- en 0,3-persentasiepunte tot die bruto binnelandse produk bydra. Navorsers van die Reserwebank verwag die hervorming sal aftreespaargeld verhoog en die regering se skuld-tot-bruto binnelandse produk-verhoudings met tot een-persent teen 2025/’26 verminder. Hulle beraam egter die hoë onttrekkingskoerse kan aftreefondse uitput.
# Rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu en Elrigh Louw begin die eerste keer ‘n toets vir Suid-Afrika in Saterdag se Rugbykampioenskaps-openingswedstryd teen die Wallabies in Brisbane. Die Springbokke het grootliks teruggeval op die groep wat verlede maand die toetsreeks teen Ierland gedeel het, met die insluiting van die Wêreldbeker-wenner-skrumskakel Cobus Reinach en die veelsydige plaasvervanger-voorspeler, Ben-Jason Dixon. Die 22-jarige Feinberg-Mngomezulu begin op losskakel en Louw op nommer agt. Skrumskakel Grant Williams verwag ‘n moeilike wedstryd teen Australië, wat tans goed op dreef is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-774-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Verskeie kunstenaars, insluitend die topverkoper sanger en liedjieskrywer Jesse Clegg, Kamo Mphela, Lebo Mashile en Zoë Modiga gaan Saterdag by die Mej Suid-Afrika 2024-kompetisie optree. Die finaliste sluit in die bemarkingsbestuurder en model Mia le Roux van die Wes-Kaap, ‘n model van Soweto, Taahira Katz, en ‘n regstudent, Onalenna Constantin van Noordwes. Natasha Joubert is die heersende Mej Suid-Afrika. Die media-persoonlikheid Bonang Matheba is die seremoniemeester.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….