Nuus 11:00
BULLETIN 6 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Vervoer sê die Padongelukkefonds se agterstand is onvolhoubaar
# My Vote Counts sê elemente in die Koalisie-wetsontwerp ondermyn demokrasie
# En, Paralimpiese Spele: Nog agt deelnemers sluit by Span Suid-Afrika aan
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die agterstand by die Padongelukkefonds is uit ‘n finansiële en humanitêre perspektief onvolhoubaar en vereis beleids- en administratiewe hervorming. Die minister het op ʼn geskrewe vraag in die Parlement geantwoord die fonds se agterstand in eise was op die 19de van verlede maand 321-duisend-251. Hiervan was 174-duisend-42 vier jaar en ouer. Die fonds het verlede jaar 45,69-miljard-rand se eise uitbetaal. Creecy sê daar is ʼn voortgesette data-ontleding om monitering te bevorder en te help om eise te identifiseer wat betaal moet word.
# My Vote Counts sê hy verwerp die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture, ook bekend as die Koalisiewetsontwerp, omdat elemente daarin demokrasie ondermyn. Die wetsontwerp verskaf ʼn wetgewende raamwerk as riglyn vir die vorming en bestuur van koalisieregerings op plaaslike regeringsvlak. My Vote Counts se senior navorser, Joel Bregman, sê die ontwikkeling van wetgewing om koalisies te help, behoort nie ʼn geleentheid te wees vir dié aan bewind om politieke mededinging saam te voeg en te verklein onder die dekmantel dat hulle bestendigheid wil hê nie:
# Al Jama-ah se president, Ganief Hendricks, sê Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, gaan nêrens heen nie. Die ANC se Gautengse sekretaris, Thembinkosi Nciza, het vroeër gesê die burgemeester sal teen die einde van die week weg wees. Hy is verlede jaar verkies en is Johannesburg se vierde sedert die plaaslike verkiesing van 2021. Al Jama-ah het drie van die raad se 270 setels. Hendricks sê daar is geen ooreenkoms dat Gwamanda gaan bedank nie:
# ‘n Ondersoek van die Verenigde Nasies het bevind nege werknemers van sy hoofagentskap vir Palestynse humanitêre hulpverligting, UNWRA, was moontlik betrokke by die Hamas-geleide aanval op Israel op sewe Oktober verlede jaar. Sowat een-duisend-200 mense is dood en meer as 200 gyselaars is na Gaza geneem. Die VN se adjunk-woordvoerder, Farhan Haq, het nie presiese besonderhede verskaf oor die betrokkenheid van die nege nie, maar sê almal is afgedank:
# Paralimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het nog agt name by Span SA gevoeg vir die Spele wat die 28ste in Parys begin. Dit sluit die dubbele Grand Slam-rolstoeltenniskampioen Kgothatso Montjane en die para-driekampatleet Kirsty Weir in. Goue-medaljewenners sal 400-duisend-rand ontvang, silwermedaljewenners 200-duisend-rand en bronswenners 75-duisend-rand. Suid-Afrika het op die vorige Paralimpiese Spele in Tokio sewe medaljes opgeraap: vier goues, een silwer en twee brons.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-784-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-403-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….