Nuus 09:00
BULLETIN 6 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Korrektiewe Dienste-vakbond vra vir verskerpte toesig en sekerheid
# Agt vermeende transitorowers word doodgeskiet en vyf in hegtenis geneem in Khayelitsha
# En Rugby: SANZAAR stel nuwe reëls bekend vir die Rugbykampioenskap
# Die vakbond vir Korrektiewe Dienstewerkers vra verbeterde toesig en sekerheid in korrektiewe inrigtings. Dit volg op die onlangse klopjagte deur die departement waartydens sluikhandel oopgevlek is. Die vakbond veroordeel gevangenes by die Boksburg-korrektiewe fasiliteit vir die stig van ‘n brand om ‘n selfoonsoektog te ondermyn. Die woordvoerder van die vakbond Alude Jizana vra die minister van Korrektiewe Dienste Pieter Groenewald om die veiligheid van gevangenes en beamptes te prioritiseer:
# Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging is bekommerd oor Eskom se mislukte bod om netwerkkapasiteit te reserveer vir hernubare energieprojekte wat deur die staat aangekoop is. Die Nasionale Energiereguleerder het verklaar dat Eskom se aansoek onduidelik en vaag is. Na die mislukking van bodvenster-ses van die Hernubare Energie Onafhanklike Kragprodusente-verkrygingsprogram, is geen bod vir windkragprojekte toegeken nie weens ‘n gebrek aan netwerktoegang. Die vereniging sê bodvenster-sewe, wat poog om vyf-duisend megawatt nuwe opwekkingskapasiteit te bekom, sal waarskynlik ook misluk.
# Die polisie het gisteraand agt vermeende transitorowers in ‘n skietgeveg in Khayelitsha, Kaapstad doodgeskiet. Die groep het na bewering beplan om ‘n transitorooftog uit te voer. ‘n Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê toe hulle op die toneel aankom het die verdagtes op die polisie begin skiet wat teruggeskiet het. Sy sê vyf verdagtes is aangekeer:
# ‘n Federale regter het beslis Google het Amerikaanse teen-mededingingswetgewing oortree deur sy monopolie op aanlyn-soektogte en verwante advertensies. Die Departement van Justisie het die maatskappy in 2020 gedagvaar oor sy beheer oor sowat 90-persent van die aanlynsoektogmark. Regter Amit Mehta sê Google se dominante posisie het tot teen-mededingende optrede gelei wat moet end kry. Die maatskappy beoog om teen die uitspraak te appelleer. Die Amerikaanse prokureur-generaal , Merrick Garland het die uitspraak verwelkom en sê nie enige maatskappy, hoe groot of invloedryk, is bo die wet verhewe nie.
# Rugby: Die beheerliggaam, SANZAAR, het nuwe reëls aangekondig vir die Rugbykampioenskap wat die instelling van 20-minuut-rooikaarte insluit. In sekere gevalle kan ‘n speler wat ʼn rooikaart gekry het, 20 minute later deur ʼn ander speler vervang word. Doelbewuste, gevaarlike vuilspel sal egter ʼn rooikaart bly en die speler mag nie terugkeer of vervang word nie. Nog ʼn nuwe reël is dat skoppers 60 sekondes kry vir ʼn doel- of strafskop. Die toernooi skop Saterdag af wanneer Australië teen Suid-Afrika in Brisbane uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-336-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….