Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VN vra ‘n dringende afname in vyandighede in die Midde-Ooste
# Bangladesj se eerste minister Sheikh Hasina bedank te midde van dodelike betogings
# En, die Olimpiese Spele: SA hou vanaand duime vas vir ‘n medalje vir Sekgodiso
# Die Verenigde Nasies se hoёkommissaris vir Menseregte, Volker Türk, vra ‘n dringende afname in vyandighede in die Midde-Ooste weens vrese dat die oorlog in Gaza kan versprei. Hy is diep besorg oor die toenemende gevaar dat die konflik kan vergroot en versoek alle partye, ook dié met invloed, om dringend ‘n baie netelige situasie te ontlont. Iran sê intussen hy het die volste reg om Israel te straf oor verlede week se moord op Hamas se politieke leier, Ismail Haniyeh, in die Iranse hoofstad, Teheran.
# Die eerste minister van Bangladesj, Sheikh Hasina, het bedank en uit die land gevlug na dodelike betogings. Studente-aktiviste het ‘n aandklokreël ignoreer en haar bedanking geëis, wat uitgeloop het op botsings waarin byna 100 mense dood is. Hasina het volgens berigte saam met haar suster na Indië gevlug, terwyl haar seun in Amerika, Sajeeb Wazed Joy, sekerheidsmagte aanmoedig om ‘n onverkose regeringsoorname te keer. Pantservoertuie en soldate patrolleer Dhaka, terwyl bykomende botsings nog sterftes en beserings veroorsaak het.
# AfriForum vra ‘n geïntegreerde, gemeenskapsgefokusde benadering om waterkrisisse te voorkom. Die organisasie se hoof van omgewingsake, Lambert de Klerk, het erkenning gegee aan die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, se standpunt oor die verantwoordelikhede van munisipaliteite, maar beklemtoon die departement se deurslaggewende rol. Hy vra beter koördinering tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede om doeltreffende waterdienslewering regoor Suid-Afrika te verseker:
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika hou vanaand duimvas vir sy vyfde medalje in Parys wanneer Prudence Sekgodiso meeding in die eindwedloop van die 800-meter vir vroue. Die 22-jarige van Limpopo het in Mei die Diamantligabyeenkoms in Marrakesj, Marokko, gewen in ‘n tyd van een-minuut-57,26-sekondes. Haar tyd in gister se halfeindstryd was die derde-vinnigste van die agt kwalifiseerders, met Keely Hodgkinson van Brittanje wat vinnigste was, gevolg deur Tsige Duguma van Ethiopië. Vanaand se wedren begin 13-minute-voor-tien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 53-duisend-223-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-389-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Hoofregter Raymond Zondo het die 2024 Brigitte Mabandla-program vir aspirantvroueregters in Rosebank, Johannesburg, van stapel gestuur. Vyf-en-sewentig-persent van verlede jaar se groep deelnemers het waargeneem as regters in die Hooggeregshof. 2024 se kandidate sal vir nege maande hidriebe opleiding ondergaan. Zondo sê die program is daarop gemik om die geskiktheid van aspirant-vroue-regsamptenare vir aanstelling in regsposisies te versterk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….