Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Petrol- en dieselpryse daal Woensdag
# Minister Hlabisa verdedig die presidensiële imbizo-geleenthede teen bewerings van verkwistende uitgawes
# En, rugby: Dis vroeg uit die vere vir Springbok-ondersteuners Saterdag
# Petrol- en dieselpryse daal Woensdag. Loodvrye petrol 93-oktaan en 95-oktaan word met 15-sent per liter verlaag, terwyl diesel tussen 17- en 28-sent goedkoper sal wees. Lampolie se prys val met 22-sent. Die prysverlagings bring petrol te staan op 23-rand-elf-sent per liter in Gauteng en 22-rand-32-sent per liter aan die kus, met dieselpryse wat ook op hulle laagste vlak sedert Januarie is. ‘n Sterker rand beïnvloed die aanpassings, ondanks ‘n effense verhoging in Brent-ruoliepryse.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velinkosini Hlabisa, verdedig president Cyril Ramaphosa se presidensiële imbizo-geleenthede teen bewerings van verkwistende uitgawes. Hlabisa het onthul die geleenthede het oor 18-maande 44-miljoen-rand gekos. Dit is daarop gemik om kwessies oor openbare dienslewering aan te pak en landsburgers toe te laat om hulle kwellinge te lug. Hy het na aanleiding van kritiek van die DA-LP, Frederik Badenhorst, geantwoord die uitgawes was geregverdig. Hlabisa het aan SABC Nuus gesê die kritiek is oordrewe:
# Die water- en sanitasiesektor sukkel met tientalle kwessies, wat Suid-Afrikaners sonder toegang tot skoon water en veilige sanitasie laat. Minister Pemmy Majodina het aan die media gesê gemeenskappe is steeds sonder basiese dienste, met munisipale waterstelsels wat agteruitgaan en lei tot onveilige drinkwater en omgewingsbesoedeling. Sy sê finansiële volhoubaarheid word bedreig deur stygende munisipale skuld aan waterrade:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, hou vandag ‘n noodvergadering nadat nog onluste die naweek in Engeland uitgebreek het. Hy is die voorsitter op ‘n vergadering oor hoe om die geweld te onderdruk wat eerste in Southport, noordwes-Engeland, uitgebreek het. Die dorp was die toneel van verlede Maandag se tragedie toe drie jong meisies dood en nog vyf ernstig beseer is in ‘n mesaanval. Onluste het regoor die land uitgebreek met anti-immigrasie-betogers wat met polisie slaags geraak het of in sommige gevalle met Moslem-teenbetogers.
# Rugby: Springbok-ondersteuners sal nie Saterdag kan laat slaap nie omdat die Rugby-kampioenskaptoets teen die Wallabies in Brisbane net na half-sewe die oggend afskop. Hoofafrigter Rassie Erasmus sal waarskynlik môre sy sterkste moontlike span kies omdat Suid-Afrika die afgelope paar jaar nie goed gevaar het in Australië nie, al het die Wallabies teruggesak na negende op die wêreldranglys, terwyl die wêreldkampioen steeds eerste is. Die Bokke het net een van hulle afgelope nege toetse in Australië gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-635-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-406-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….