Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, en adjunkminister Peace Mabe bied vanaand ‘n dinee in Kaapstad aan om Suid-Afrika se onlangse Wêrelderfenis-pretasies te vier. Die 46ste Wêrelderfeniskomitee wat in Nieu-Delhi, Indië, vergader het, het Suid-Afrika se aansoeke aanvaar om op die gesogte Wêrelderfenislys ingesluit te word. Die terreine wat aanvaar is, is twee rotsskuilings in die Wes-Kaap – die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai en die Pinnacle Point-terreinkompleks in Mosselbaai – asook die Sibhudu-grot in KwaZulu-Natal.
# Stud Game Breeders het beurse van 8,75-miljoen-rand aan verdienstelike studente toegeken vir Bestuursprogramme in Natuurbewaring en Natuurlewebestuur by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Die beursprogramme wat die afgelope 13 jaar aangebied word, het in 2011 met ‘n aanvanklike bedrag van 70-duisend-rand vir twee studente begin. Dit het sedertdien uitgebrei en ondersteun 266 studente. Die TUT sê vanjaar se beursontvangers sluit hulle aan by ‘n groep wat Stud Game Breeders tot dusver bemagtig het om ‘n bydrae tot die toekoms van bioverskeidenheids-bewaring en natuurlewebestuur in Suid-Afrika te maak.
# Twee Wes-Kaapse graad 12-leerders, Aimeè Stollie en Akhona Zondo, het onlangs teruggekeer van hulle tiendaagse reis aan boord van die SA Agulhas Twee, as deel van SEAmester Seven – Suid-Afrika se drywende klaskamer-program. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die SEAmester-program kombineer tradisionele klaskamer-lesse met aktiwiteite op die dek en bied leerders geleentheid om spesialis-wetenskaplikes met erkende see-navorsingsaktiwiteite by te staan:
# ʼn Mosselbaaise onderwyser is as Suid-Afrika se Mnr Globaal vir 2024 gekroon. Anton Siebert van die Laerskool Diaz was een van 16 finaliste wat aan die kompetisie deelgeneem het. Die beoordelaars het sy oorspronklikheid en veral sy diere-welsynprojek, Project Blessing, geloof. Die projek versorg diere en leer kinders terselfdertyd van liefde, sorg en respek. Die naaswenner was JP Geldenhuys van Gauteng. Siebert was in 2021 tweede prins in die Mnr Suid-Afrika-kompetisie en verlede jaar die naaswenner in die Mnr Supranasionaal-kompetisie.
# En ten slotte: Die ontslape basketbal-superster Kobe Bryant se persoonlike sluitkas uit die Staples-sentrum is opgeveil vir 53-miljoen-rand, wat dit die waardevolste sportsluitkas maak wat nog ooit verkoop is. Sotheby’s het die transaksie bevestig en sê dit is in 2018 tydens opknapwerk deur ‘n onderhoudswerker gered. Brahm Wachter van Sotheby’s beskryf die sluitkas as ‘n betekenisvolle oorblyfsel van Bryant se nalatenskap. Dit was die derde duurste veiling van Kobe Bryant-gedenkwaardighede. Die opbrengs word geskenk aan die Los Angeles Lakers-jeugstigting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….