Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gauteng het ‘n nuwe inkomste-plan vir e-tolskuld
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement ontken bewerings dat kankerbehandeling afgeskeep word
# En, die Olimpiese Spele : Adam Peaty bevraagteken China se oorwinning in die mans-aflos na opkikker-bewerings
# Die Gautengse regering wil ‘n nuwe inkomste-strategie gebruik om sy skuld van 17-miljard-rand vir die Gautengse Snelwegverbeteringsprojek aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap te vereffen. Die Nasionale Tesourie en die provinsiale regering het ʼn ooreenkoms bereik en die e-tolstelsel is in April afgeskakel en geskrap. Die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê hulle wil Gauteng se 30-persent van Sanral se projek-skuld en rente verskuldig betaal deur geld in te samel om in infrastruktuur te belê eerder as om die terugbetaling van skuld te finansier.
Steeds in Gauteng: Die provinsiale Gesondheidsdepartement ontken bewerings dat kankerpasiënte se behandeling verwaarloos word. Die departement word beskuldig dat byna 800-miljoen-rand wat aan onkologiedienste toegeken is, nooit gebruik is nie. Die Kanker-alliansie wat deur Section 27 verteenwoordig word, het ʼn hofaansoek teen die departement ingedien om hom te dwing om bestraling te gee aan pasiënte op die waglys. ʼn Lid van die Gautengse wetgewer, Dulton Adams, het aan eNCA gesê hy glo die kwessie kan buite die hof geskik word:
# Die Withuis sê president Joe Biden ontmoet vandag sy nasionale veiligheidspan om die gebeure in die Midde-Ooste te bespreek. Dit volg op verlede week se sluipmoord op Hamas se politieke hoof, Ismail Haniyeh en die Libanese groep Hezbollah se senior militêre bevelvoerder, Fuad Shukur. Iran het gewaarsku hy gaan teen Israel terugslaan wat hy die skuld gee vir Haniyeh se dood. Die Withuis se adjunk-nasionale veiligheidsraadgewer, Jonathan Finer, het aan CBS gesê hulle probeer om enige verdere aanvalle te verhoed:
# Olimpiese Spele: Die Britse sesmalige Olimpiese medaljewenner-swemmer, Adam Peaty, het China se oorwinning in die mans vier-maal-100-meter aflos in Parys bevraagteken na bewerings van opkikkergebruik. Twee van die wenners, Quin Haiyang en Sun Jiajun, is onder die 23 Chinese swemmers wat positief getoets het vir opkikkers voor die Spele in Tokio, maar kon deelneem nadat bevind is hulle het onwetend ‘n verbode middel ingeneem deur besmette kos. Peaty sê daar is nie enige sin in om te wen as mens dit nie regverdig doen nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-720-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-430-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Mosselbaaise onderwyser is as Suid-Afrika se Mnr Globaal vir 2024 gekroon. Anton Siebert van die Laerskool Diaz was een van 16 finaliste wat aan die kompetisie deelgeneem het. Die beoordelaars het sy oorspronklikheid en veral sy diere-welsynprojek, Project Blessing, geloof. Die projek versorg diere en leer kinders terselfdertyd van liefde, sorg en respek. Die naaswenner was JP Geldenhuys van Gauteng. Siebert was in 2021 tweede prins in die Mnr Suid-Afrika-kompetisie en verlede jaar die naaswenner in die Mnr Supranasionaal-kompetisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….