Nuus 07:00
BULLETIN 5 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP gaan voort met sy kritiek teen die regering van nasionale eenheid
# Die Gautengse Onderwysdepartement gaan ‘n kultuur van rassisme by die Pretoria High School for Girls ondersoek
# En minstens 30 is dood in Israelse lugaanvalle in Gaza
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê die ANC kon die regering van nasionale eenheid sonder die betrokkenheid van die DA en ander sogenaamde teen-revolusionêre magte gevorm het. Die SAKP het gister sy 103de bestaansjaar in Kaapstad gevier. Die hoofsekretaris Solly Mapaila sê hulle behou die reg voor om enige beleidsverskuiwing na regs in die regering van nasionale eenheid teen te staan, daarteen op te tree en te mobiliseer:
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het ‘n beroep herhaal vir gelyke vergoeding vir die geslagte in Suid-Afrika. Die Wêreld Ekonomiese Forum se Global Gender Gap Report wys op Suid-Afrika se aansienlike inkomste-ongelykheid, met vroue wat steeds 23- tot 35-persent minder verdien as mans in dieselfde rolle. Die kommissaris Prabashni Subrayan-Naidoo sê om die kwessie aan te spreek vereis die bevordering van gelykheid met geleenthede, deursigtigheid, samewerking en bemagtiging. Sy sê hoë werkloosheid vererger die ongelykheid.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy gaan ‘n onafhanklike ondersoek instel om vas te stel of daar ʼn kultuur van rassisme by die Pretoria High School for Girls bestaan. Dit volg na die skoolbeheerliggaam se tugverhore teen 12 matrikulante wat weens vermeende rassisme geskors is. Hulle is op alle aanklagte onskuldig bevind. Hulle is beskuldig dat hulle deel is van ʼn WhatsApp-groep met slegs wit lede wat na bewering rassistiese mikro-aggressie getoon het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle respekteer die beheerliggaam se besluit:
# Minstens 30 mense is die naweek dood in Israelse lugaanvalle wat die Al-Aqsa Hospitaal en twee skole in die Al-Nasr-buurt in Gaza getref het. Dit kom te midde van berigte dat Amerikaanse en Israelse leiers verskil oor ʼn moontlike skietstilstand-ooreenkoms. Palestynse amptenare sê Israel het nie burgerlikes voor die aanvalle gewaarsku nie. Die Israelse Weermag sê hy het terroriste in Hamas se bevel- en beheersentrums aangeval wat vanuit hospitale en skole bedryf word.
# Olimpiese Spele: Die Serwiër, Novak Djokovic, het Carlos Alcaraz van Spanje met 7-6, 7-6 in die mans se tennis-enkelspel geklop en sy eerste goue medalje by sy vyfde Spele gewen. Die 37-jarige Djokovic is die vyfde speler om die Goue Slam te wen in enkelspel, al vier Majors en die Olimpiese titel. Ander spelers is Rafael Nadal, Serena Williams, André Agassi en Steffi Graf. Alcaraz het met silwer weggestap en die Italianer, Lorenzo Musetti, met brons. Djokovic sê hy is oorweldig dat hy uiteindelik hierdie prestasie behaal het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 53-duisend-734-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-443-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: Die ontslape basketbalsuperster Kobe Bryant se persoonlike sluitkas uit die Staples-sentrum is opgeveil vir 53-miljoen-rand, wat dit die waardevolste sportsluitkas maak wat nog ooit verkoop is. Sotheby’s het die transaksie bevestig en sê dit is in 2018 tydens opknapwerk deur ‘n onderhoudswerker gered. Brahm Wachter van Sotheby’s beskryf die sluitkas as ‘n betekenisvolle oorblyfsel van Bryant se nalatenskap. Dit was die derde duurste veiling van Kobe Bryant-gedenkwaardighede. Die opbrengs word geskenk aan die Los Angeles Lakers-jeugstigting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….