Nuus 13:00
BULLETIN 4 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se driedaagse Lekgotla begin in Boksburg
# Die teenbende-eenheid ondersoek die dubbele moord op tienerbroers in Kaapstad
# En, Olimpiese Spele: Die gemengde aflosswem-oefensessie is afgelas oor die watergehalte van die Seine
# Die ANC se driedaagse Lekgotla begin vandag in Boksburg, met leiers wat die Nasionale Uitvoerende Komitee, provinsiale verteenwoordigers en ANC-ministers, -premiers en burgemeesters insluit. Hulle sal die uitkoms van die vergadering van die NUK bespreek om die ANC se vernuwingsproses op te skerp en Suid-Afrikaners beter te dien. Die Lekgotla sal ook die party se slegste vertoning sedert die begin van die demokrasie oordink en strategieë ontwerp om die party voor die volgende verkiesing te laat herleef.
Intussen het die ANC beroepe verwerp om die 44ste spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap uit Zimbabwe te verskuif weens die inhegtenisneming van aktiviste. President Mnangagwa hou vol Zimbabwe sal nie geweld voor die spitsberaad op 17 Augustus toelaat nie. Mnangagwa beklemtoon die land se voortgesette vrede stel hom in staat om transformerende projekte na te jaag. Die woordvoerder van die ANC Zuko Godlimpi sê Zimbabwiese kwessies moet in Zimbabwe opgelos word:
# Speurders van die teenbende-eenheid in Kaapstad ondersoek die dubbele moord op twee tienerbroers van Kaapstad wat gisteroggend in Lavender Hill doodgeskiet is. Die seuns het in St Bernardstraat gestap toe hulle aangeval is. Bykomende polisielede is in die gebied ontplooi. Die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringforum in Lavender Hill Gavin Walbugh het aan eNCA gesê hulle is bekommerd oor die veiligheid van kinders:
# Die Britse regering moedig sy burgers in Libanon aan om die land onmiddellik te verlaat weens vrese oor ‘n breër streekskonflik. Die minister van Buitelandse Sake David Lammy sê Britse burgers moet vertrek terwyl kommersiële opsies nog beskikbaar is. Lammy sê spanning loop hoog en die toestand kan vinnig versleg. Hy gee die versekering die Verenigde Koninkryk versterk sy konsulêre teenwoordigheid in Libanon en gee operasionale steun. Hy beklemtoon ook hoe dringend dit is om te vertrek voor die uitgangsroetes, wat paaie en lugvervoer insluit, beperk of gesluit word.
# En, die Olimpiese Spele: Die organiseerders in Parys het vandag se swemoefensessie vir die driekamp se gemengde aflos afgelas nadat onlangse swaar reën die watergehalte van die Seinerivier laat versleg het. Die besluit is laat gister geneem nadat toetse getoon het die watergehalte voldoen nie aan die vereistes nie, na die reën op 31 Julie en 1 Augustus. Die gemengde aflos is vir môre geskeduleer. Besoedeling in die Seine na swaar reën het ook die mansitem vir ‘n dag lank uitgestel, nadat die swemoefensessies twee agtereenvolgende dae afgelas is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….