Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Israelse polisie red vyf Suid-Afrikaanse vroue uit sekshandel
# Twaalf leerders van Pretoria High School for Girls is onskuldig aan rassisme
# En, rugby: Siya Kolisi is volgens berigte op pad terug uit Frankryk
# Die Israelse polisie het ‘n Suid-Afrikaanse mensehandelnetwerk oopgevlek en vyf Suid-Afrikaanse vroue in Jerusalem and Tel Aviv gered uit gedwonge prostitusie. Volgens News24 is drie vroue in Junie gered tydens ‘n klopjag op ‘n bordeel in Jerusalem, wat gelei het tot verdere opsporings in Tel Aviv waar twee vroue gered is. Vier Suid-Afrikaners en ‘n persoon met dubbele Nigeriese en Suid-Afrikaanse burgerskap is in hegtenis geneem, en nog inhegtenisnemings word verwag. Die slagoffers vertel van ernstige uitbuiting en mishandeling.
# Die Pretoria High School for Girls het bekendgemaak die twaalf leerders wat weens beweerde rassisme geskors is, is onskuldig bevind aan wangedrag. Die uitspraak is gelewer deur ‘n paneel van drie persone onder die voorsitterskap van ‘n advokaat, wat dié week die tugverhoor oor die aangeleentheid gehou het. Die skool het bevestig die prefek-status van die leerders word herstel en benadruk die dissiplinêre proses was regverdig en deursigtig, en waardevolle lesse is daaruit geleer.
# Die Verkiesingskommissie word geprys vir sy noukeurige finansiële bestuur nadat hy in die 2023/’24-boekjaar die vierde agtereenvolgende keer ‘n skoon oudit ontvang het. Die Ouditeur-Generaal se assesering van die kommissie en die partybefondsing het sterk interne beheer en voldoening aan regulasies benadruk. David Mandaha van die kommisise sê die skoon oudits weerspieël die OVK se verbintenis tot hoë standaarde in verkiesings en sy sakepraktyke:
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, is volgens berigte op pad terug uit Frankryk nadat die eienaar van Racing 92, Jacky Lorenzetti, in die openbaar beweer het hy is oorgewig en sy spelpeil nie na wense nie. Kolisi is na verlede jaar se Wêreldbekertoernooi na die span met ‘n jaarlikse salaris van sowat 20-miljoen-rand, terwyl die klub die Haaie ook 17-miljoen-rand betaal het om hom uit te koop, maar ‘n besering het daartoe gelei dat hy nie juis beïndruk het nie. Die Haaie is skynbaar gretig om hom terug te hê.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-738-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-461-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Gesondheid moedig die publiek aan om organe en weefsel te skenk om iemand se lewe te red of lewensgehalte te verbeter. Meer as twee-duisend-500 mense is na raming op die aktiewe waglys vir ‘n orgaan- of weefselskenking, terwyl ander dood is terwyl hulle gewag het. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê een skenker kan tot sewe lewens red:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….