Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Augustus 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons het heelwat nuus oor die Olimpiese Spele: Die swemmer Tatjana Smith het haar uittrede uit die sport aangekondig nadat sy in Parys goud gewen het in die 100 meter-borsslag en silwer in die 200 meter-borsslag. Die 27-jarige kampioen is een van Suid-Afrika se mees bekroonde Olimpiese atlete wat tydens haar loopbaan twee goue en twee silwer medaljes gewen het. Smith sê sy sien uit na dít wat vir haar voorlê:
Die atletiekprogram begin vandag in Parys. Onder die Suid-Afrikaners wat op die baan en in die veld in aksie sal wees, is Ryan Mphahlele in die mans een-duisend-500-meter, Prudence Sekgodiso in die vroue 800-meter, Kyle Blignaut in die mans gewigstoot, Adrian Wildschutt in die mans 10-duisend-meter, Wayde van Niekerk in die mans 200-meter, Gerda Steyn in die vroue marathon, en Stephen Mokoka in die mans marathon. Daar sal ook groot belangstelling wees in Akani Simbine se wedywering met die blitsige Amerikaner Noah Lyles in die 100-meter.
Die Chinese tennisspeler Zheng Qinqen gaan Saterdag meeding om goud nadat sy die wêreld nommer een, Iga Swiatek, uitgeknikker het in die halfeindronde in Parys. Die 22-jarige, nommer sewe op die wêreldranglys, het die Poolse speler in skoon stelle verslaan nadat sy ‘n gewese nommer een, Angelique Kerber van Duitsland, in die kwarteindronde uitgeskakel het. Zheng speel in die eindstryd teen Donna Vekic van Kroasië, wat Anna Karolina Schmiedlova van Slowakye in die ander halfeindstryd verslaan het.
Andy Murray van Brittanje se roemryke tennisloopbaan is intussen verby nadat hy en Dan Evans in die kwarteindronde van die mans-dubbelspel uitgeskakel is. Murray, ‘n tweemalige Olimpiese enkelspelkampioen, en Evans het 6-2, 6-4 verloor teen die derde gekeurde Amerikaners Taylor Fritz en Tommy Paulr. Die 37-jarige Murray het tydens sy loopbaan drie Grand Slam-titels en 46 ATP-titels opgeraap. Hy het Brittanje in 2015 ook na ʼn Davisbeker-oorwinning gelei. Murray sê hy is trots op sy loopbaan:
# Ons sluit vandag af met rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, sê ʼn kragmeting met die Wallabies in Australië is altyd ʼn groot uitdaging en daarom is die paar ekstra dae om by die toestande aan te pas, baie waardevol. Die Bokke het gister in Australië aangekom en skop volgende Saterdag vanjaar se Rugbykampioenskap in Brisbane af. Hulle tweede wedstryd teen die Wallabies is die 17de in Perth. Stick sê hulle het ʼn goeie grondslag waarop hulle in die Kampioenskap kan bou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….