Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Verdediging wag op ‘n volledige verslag oor die Libiese militêre opleidingsbewerings
# Infrastruktuurprobleme op Suid-Afrikaanse lughawens veroorsaak duur vertragings
# En, rugby: Die Bok-hulpafrigter sê die ekstra paar dae in Australië sal waardevol wees
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê sy wag op ‘n volledige verslag oor die beweerde militêre opleiding van 95 Libiërs in Mpumalanga. Die Libiërs is sedertdien in aanhouding en beweer hulle is opgelei as sekerheidswagte. Volgens eNCA het die minister op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee gesê dat ‘n verslag volg sodra ondersoeke afgehandel is:
# Die Lugdienstevereniging van Suid-Afrika sê infrastruktuur-probleme op lughawens veroorsaak duur vertragings en veiligheidsrisiko’s. Vlugte moes onlangs op die Kaapstadse Internasionale Lughawe vertraag of herlei word weens ‘n kragonderbreking. Die vertragings en herleiding van vlugte volg nadat die Lugverkeer-navigasiediens instrument-navigasie onbepaald opgeskort het na nege van die land se lughawens. Die vereniging se uitvoerende hoof, Aaron Munetsi, sê enige moderne land wat ʼn groeiende, gesofistikeerde en mededingende ekonomie wil hê, hanteer lugvaart as ʼn sentrale deel van sy ekonomiese beplanning en strategie.
# Die verslaggewer van Wall Street Journal, Evan Gershkovich, die gewese seesoldaat Paul Whelan en die joernalis Alsu Kurmasheva is terug op Amerikaanse bodem nadat hulle deel was van ‘n gevangene-uitruiling tussen Amerika, Rusland en vier ander lande. President Joe Biden en visepresident Kamala Harris het hulle op die Lugmagbasis Andrews in Maryland verwelkom. Sestien mense is uit Russiese aanhouding bevry terwyl Amerika, Duitsland, Noorweë, Slowenië en Pole agt Russiese gevangenes vrygelaat het. Harris sê dit was ʼn grootse diplomatieke poging:
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, sê ʼn kragmeting met die Wallabies in Australië is altyd ʼn groot uitdaging en daarom is die paar ekstra dae om by die toestande aan te pas, baie waardevol. Die Bokke het gister in Australië aangekom en skop volgende Saterdag vanjaar se Rugbykampioenskap in Brisbane af. Hulle tweede wedstryd teen die Wallabies is die 17de in Perth. Stick sê hulle het ʼn goeie grondslag waarop hulle in die Kampioenskap kan bou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-13-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-462-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Universal Pictures het die filmregte verkry vir die Grammy-wenner Britney Spears se topverkoper memoir, The Woman in Me. Die boek wat in Oktober verlede jaar verskyn het, het net in Amerika meer as 2,5-miljoen eksemplare verkoop. Spears bespreek daarin haar reis van popsterstatus tot haar wyd gepubliseerde kuratorskapsaak en haar ingewikkelde verhouding met haar familie en voormalige vriend, Justin Timberlake. Die regisseur van Wicked, Jon M Chu, en die vervaardiger Marc Platt gaan glo die biografiese rolprent maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….