Nuus 09:00
BULLETIN 2 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die rentekoerssaak teen Nedbank toon ‘n mislukking van die regulatoriese raamwerk
# Die DA oorweeg regstappe om salarisverhogings in Johannesburg te stop
# En, Olimpiese Spele: Die atletiekprogram begin vandag in Parys
# Die EFF sê die gebrek aan behoorlike oorsig oor privaat banke en sakeondernemings in Suid-Afrika het maatskappye soos Nedbank toegelaat om straffeloos op te tree. Die Spesiale Ondersoekeenheid en Transnet dagvaar Nedbank oor die omstrede rentekoers-ruiltransaksies tydens die staatskapingsera. Die SOE en Transnet is van mening die transaksies het die bank in staat gestel om wins van meer as 2,7-miljard-rand te behaal. Die EFF sê die gebrek aan aanspreeklikheid benadruk die stelselmislukkings in die regulatoriese raamwerk en die regering se onvermoë om geregtigheid teen sterk privaatbelange af te dwing.
# Die vakverbond Cosatu sê hy ondersteun die vakbond Nehawu se staking teen die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se herstruktureringsproses. Werkers beskuldig die maatskappy dat hy die betaling- en indiensnemingstruktuur eensydig verander. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die veranderinge is aangebring sonder om werkers te raadpleeg:
# Die DA sê hy oorweeg al sy regsopsies om die beplande salarisverhogings van die Stad Johannesburg te keer. Volgens ‘n kennisgewing wat die week by die raad ingedien is, sal senior munisipale bestuurders in die stad salarisverhogings ontvang wat terugwerkend is tot Julie verlede jaar. Nicole Rahn van die DA sê die aanvanklike betaling alleen sal die belastingbetaler 1,5-miljoen-rand kos. Sy sê hierdie verhogings is ʼn aanklag teen die stad:
# ‘n New Yorkse Appèlhof het die voormalige president Donald Trump se aansoek geweier om die swygbevel in sy swyggeld-strafsaak ter syde te stel. Hy is in Mei skuldig bevind aan 34 oortredings wat voortspruit uit die betaling van swyggeld aan die voormalige ster van volwasse rolprente, Stormy Daniels. Trump se regsverteenwoordigers het voorheen aangevoer die swygbevel skend die voormalige president se konstitusionele reg tot vryheid van spraak. Die bevel beteken Trump mag nie in die openbaar kommentaar oor individuele aanklaers en andere in die saak lewer tot hy op 18 September gevonnis word nie.
# Olimpiese Spele: Die atletiekprogram begin vandag in Parys. Onder die Suid-Afrikaners wat op die baan en in die veld in aksie sal wees, is Ryan Mphahlele in die mans een-duisend-500-meter, Prudence Sekgodiso in die vroue 800-meter, Kyle Blignaut in die mans gewigstoot, Adrian Wildschutt in die mans 10-duisend-meter, Wayde van Niekerk in die mans 200-meter, Gerda Steyn in die vroue marathon, en Stephen Mokoka in die mans marathon. Daar sal ook groot belangstelling wees in Akani Simbine se wedywering met die blitsige Amerikaner Noah Lyles in die 100-meter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-460-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-459-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….