Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……….
In die bulletin:
# Die ANC verdedig sy rol in die regering van nasionale eenheid en verwerp Helen Zille se koalisiebewerings
# Die Lugdienstevereniging vra minister Creecy om lugreisontwrigtings op te los
# En, die Olimpiese Spele: Tatjana Smith tree dalk uit na vanaand se medalje-poging in Parys
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, verwerp die bewerings van die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, dat die regering van nasionale eenheid ‘n koalisie tussen die DA en die ANC is. Hy het die media toegelig in Ekurhuleni tydens die driedaagse vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Volgens Mbalula bly die ANC sentraal in die regering van nasionale eenheid en geen regeringsbesluite kan sonder sy betrokkenheid geneem word nie:
# Die Lugdienstevereniging van Suider-Afrika versoek die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om werk te maak van voorkombare lugreisontwrigtings. Uitvoerende hoof Aaron Munetsi benadruk die ontwrigting van vlugskedules skaad lugdienste finansieel en lei tot verlore verkope en verhoogde kostes. Hy sê ook die stilstand van lugdienste se lisensierade weens onbetaalde raadslede vererger die situasie. Munetsi benadruk die belangrikheid om lugvaart-infrastruktuur en dienste in stand te hou om die ekonomie te ondersteun en werk te skep.
# Binnelandse Sake gaan nie die Mej SA-deelnemer Chidimma Adetshina ondersoek nie, behalwe as ‘n formele klagte ingedien word. Die 23-jarige regsstudent wat in Soweto gebore is, is onder die vergrootglas omdat haar pa ‘n Nigeriër is. Sy is nou onder die top 11. Adjunkminister Njabulo Nzuza het aan die SABC bevestig daar was nie enige versoeke vir ingryping nie:
# Iran het vandag ‘n begrafnisseremonie gehou vir Hamas se politieke hoof, Ismail Haniyeh, waar oproepe gedoen is vir vergelding na die aanval waarvan Israel beskuldig word. Duisende roubeklaers het hulde gebring aan Haniyeh terwyl die Israelse Weermag bevestig het Hamas se militêre hoof, Mohammed Deif, is onlangs in ‘n lugaanval dood. Iran se opperleier, ayatollah Ali Khamenei, het die gebedsdiens gelei voor Haniyeh later in Katar begrawe sal word. ‘n Groot skare mense, insluitend vroue in swart, het in Teheran foto’s van Haniyeh en Palestynse vlae rondgeswaai.
# Olimpiese Spele: Vanaand se medalje-stryd in die 200-meter-borsslag kan dalk die laaste verskyning van die huidige goue meisie van Suid-Afrikaanse swem, Tatjana Smith, wees. Die 27-jarige het onlangs gesê sy wil nie langer gedefinieer word deur haar prestasies nie, en dat daar lewe na swem is. Smith het reeds goud ingepalm in die 100-meter-borsslag na goud en silwer in Japan. Sy en haar landgenoot Kaylene Corbett swem albei in die eindronde, en Pieter Coetzé in die eindronde van die mans 200-meter-rugslag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-709-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-450-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….