Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bevestig sy leierskapsrol in die nasionale regering ná die verkiesing
# Binnelandse Sake gaan nie ‘n Mej SA-deelnemer ondersoek sonder ‘n formele klagte nie
# En, die Olimpiese Spele: Simone Biles wil die algehele gimnastiektitel inpalm
# Die ANC het sy leierskapsrol in die nasionale regering ná die verkiesing bevestig. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het op die eerste vergadering van die nasionale uitvoerende komitee in Ekurhuleni die ANC se verbintenis beklemtoon om die grondwetlike demokrasie te eerbiedig. Hulle sal veral aandag skenk aan maatskaplik-ekonomiese kwessies en nasionale hervorming. Mbalula sê die NUK sal die verkiesingsuitslae bekyk en die stand van die ANC en sy beoogde programme bespreek in die lig van die party wat die regering van nasionale eenheid lei:
# Binnelandse Sake gaan nie die Mej SA-deelnemer Chidimma Adetshina ondersoek nie, behalwe as ‘n formele klagte ingedien word. Die 23-jarige regsstudent wat in Soweto gebore is, is onder die vergrootglas omdat haar pa ‘n Nigeriër is. Sy is nou onder die top 11. Adjunkminister Njabulo Nzuza het aan die SABC bevestig daar was nie enige versoeke vir ingryping nie:
# Suid-Afrika het ‘n afname gemerk in die getal ondernemings wat in die land gelikwideer is. Syfers van Statistieke Suid-Afrika toon dat 5,5-persent minder likwidasies in Junie aangeteken is, wat sewe likwidasies minder is as die 128 in dieselfde tyd verlede jaar. ‘n Opname-statistikus, Suzzie Mnguni, sê altesaam 759 maatskappy het in die eerste ses maande vanjaar gesluit:
# ‘n Nag van geweld in drie Britse stede het eerste minister Keir Starmer gedwing om ‘n noodvergadering met polisie-aanvoerders te belê. Verregse elemente het betoog na Maandag se massa-steekvoorval in die kusoord Southport waarin drie klein dogtertjies dood is. Betogings het Londen gisteraand geskud, asook die noordelike stede Hartlepool en Manchester, met meer as 100 mense wat in die hoofstad aangekeer is. Waninligting op sosiale media oor die identiteit en agtergrond van die 17-jarige verdagte het daartoe gelei dat betogers ‘n plaaslike moskee aangeval het.
# Olimpiese Spele: Simone Biles wil nog ‘n hoofstuk in haar geskiedkundige Olimpiese verhaal skryf deur vandag die algehele gimnastiektitel in te palm. Die Amerikaanse ster is terug in die kalklig nadat sy met die vorige Spele in Tokio onttrek het, en poog om die eerste vrou nog te word wat die algehele titel terugwen. Die 27-jarige het Dinsdag weer die boonste plek op die podium ingeneem met span-goud, haar agste Olimpiese medalje, waarvan vyf goues is, en het daarmee die mees bekroonde Amerikaanse Olimpiese gimnas ooit geword.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-814-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-443-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….