Nuus 12:00
BULLETIN 1 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal na ‘n skoolbusongeluk in Mpumalanga styg tot ses
# Die Patriotic Alliance gaan die burgerskap van ‘n deelnemer aan Mej Suid-Afrika uitdaag
# En krieket: Die Proteas word getoets op die eerste dag van hulle opwarmingswedstryd in die Karibiese Eilande
# Die dodetal ná die botsing tussen ‘n skoolbus en ʼn trein op die R-104 buite Middelburg in Mpumalanga het tot ses gestyg. Die sesde leerder is in die hospitaal dood. Die busbestuurder het blykbaar probeer om die treinspoor oor te steek toe die voorval plaasvind. Hy het volgens berigte van die toneel gevlug. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het haar skok uitgespreek en wetstoepassingsagentskappe gevra om die padveiligheidsveldtog te verskerp.
# Die vakbondfederasie Cosatu in die Wes-Kaap vra die Sea Harvest-groep om gesondheid- en veiligheidstandaarde in die visbedryf te verbeter. Dit volg nadat die MVF Lepanto in Mei gesink en elf vissers vermoedelik verdrink het. Sea Harvest het 13 dae tyd om op die federasie se eise te reageer. Malvern de Bruyn van Cosatu vra beter veiligheidsmaatreëls, insluitend voldoende toerusting, gereelde mediese ondersoeke en beter lewensomstandighede op bote:
# Die Patriotic Alliance het bekendgemaak hy gaan regstappe doen om vas te stel of ‘n deelnemer aan Mej Suid-Afrika, Chidinma Adetshina, ‘n Suid-Afrikaner is. Dit volg na onthullings dat haar pa ‘n Nigeriër is. Sy is in Johannesburg gebore en is ‘n Suid-Afrikaanse burger, maar sommige is gekant teen haar deelname. Die PA wil haar ma se burgerskap bevestig en beskuldig die organiseerders van ‘n gebrek aan openheid. Die organiseerders sê egter al Adetshina se dokumentasie is deeglik nagegaan en voldoen aan die vereistes van die kompetisie.
# Owerhede in Singapoer ondersoek die oorsaak van voedselvergiftiging nadat tientalle werknemers siek geword het in die hoofkantoor van ByteDance, die eienaar van die gewilde sosiale mediaplatform TikTok. Minstens 60 mense het simptome ontwikkel en die meeste is hospitaal toe geneem. Ambulanse, brandweerwaens, die Burgerlike Weermag en ‘n massa-ontsmettingsvoertuig is na die gebou ontplooi. Sky News berig die maatskappy gebruik verskaffers van buite vir die kantoorkantien en geen kos word op die perseel voorberei nie.
# Krieket: ‘n Wes-Indiese uitnodigings-elftal hervat vandag hulle eerste beurt op 245 vir ses in die opwarmingswedstryd teen die Proteas, wat voorberei vir die eerste twee toetse teen die Windies. Suid-Afrika het die loot gewen in Trinidad en Tobago en gekies om te boul. Die tuisspan se openingskolwer, Jeremy Solozano, het die beste gevaar deur 111 aan te teken terwyl die snelbouler Kagiso Rabada drie paaltjies ingeoes het. Rabada sê hy geniet dit baie om in die Karibiese Eilande te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-382-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-440-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….