Nuus 11:00
BULLETIN 1 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die skoolbusongeluk in Mpumalanga styg tot ses
# Saftu veroordeel kritiek oor Mej Suid-Afrika-deelnemer se burgerskap
# En, rugby: Australië sluit ses nuwelinge in vir die Bok-toetse
# Die dodetal ná die botsing tussen ‘n skoolbus en ʼn trein op die R-104 buite Middelburg in Mpumalanga het tot ses gestyg. Die sesde leerder is in die hospitaal dood. Die busbestuurder het blykbaar probeer om die treinspoor oor te steek toe die voorval plaasvind. Hy het volgens berigte van die toneel gevlug. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het haar skok uitgespreek en wetstoepassingsagentskappe gevra om die padveiligheidsveldtog te verskerp.
# Die EFF sê die huidige administrasie het gewys hy het nie die vermoë om die land se dringende probleme aan te pak nie. Die party het die Presidensie se begroting in die Nasionale Raad van Provinsies verwerp wat reeds in die Nasionale Vergadering goedgekeur is. ‘n Begroting van 612-miljoen-rand is vir die 2024/’25-boekjaar aan die Presidensie toegewys. Mandisa Makesini van die EFF sê president Cyril Ramaphosa se onvermoë om behoorlik oor die ekonomie toesig te hou, stuur die land oor die afgrond:
# Die vakbondfederasie, Saftu, sê hy is ontsteld oor die afknouery en kritiek oor die burgerskap van ‘n deelnemer aan Mej Suid-Afrika, Chidimma Adetshina. Sy is die middelpunt van ʼn polemiek oor haar geskiktheid om aan die kompetisie deel te neem omdat haar pa ʼn Nigeriër en haar ma ʼn Suid-Afrikaner van Mosambiekse afkoms is. Die 23-jarige skoonheid is in die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal gebore en het in Soweto grootgeword. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê Adetshina se burgerskap behoort nie bevraagteken te word nie:
# Iran se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, beskuldig Amerika van die Hamas-leier Ismail Haniyeh se dood en sê Israel kon dit nie sonder Amerika se goedkeuring en intelligensie-ondersteuning uitvoer nie. Haniyeh is gister in ʼn aanval in Teheran dood. Iravani het aan die VN-Veiligheidsraad gesê Haniyeh se sluipmoord is nog ʼn voorbeeld van Israel se dekade lange patroon van terrorisme en sabotasie teen Palestyne en hulle ondersteuners:
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het ses nuwe spelers in sy groep van 36 ingesluit vir hulle eerste twee Rugby-kampioenskapstoetse teen die Springbokke in Brisbane en Perth. Die nuwelinge sluit in die Olimpiese sewes-ster Corey Toole en Marika Koroibete, wat in Japan speel. Angus Bell en die 19-jarige Max Jorgensen is terug nadat hulle weens beserings gedeeltes van die Super-rugbyseisoen misgeloop het. Schmidt sê hy hoop die span gaan die uitdaging gestand doen om teen Suid-Afrika te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-374-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-443-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….