Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau vra beskerming teen onwettige handel wat die ekonomie bedreig
# Minister Steenhuisen sê die landbou kan die stukrag wees vir ekonomiese groei
# En, die Olimpiese Spele: Drie Suid-Afrikaanse swemmers neem vanaand aan halfeindrondes deel
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die onwettige ekonomie kos Suid-Afrika jaarliks 100-miljard-rand en ondermyn industrialisering en werkskepping. Tau plaas klem op invoerders se gebruike, soos die onderverklaring van goedere se waarde en die wangebruik van kortings, wat plaaslike vervaardigers raak. Hy sê ‘n tussen-agentskapwerksgroep is gestig om dit teen te werk, toegespits op skrootmetaal, goud, klerasie, tekstiel, skoeisel en leer:
FNB stel intussen voor privaat sektor-vennootskappe moet hand-aan-hand gaan met sakeontwikkelingsagentskappe om te help om werk te skep. Die hoof van KMO-ontwikkeling, Heather Lowe, glo programme van slegs die regering kan nie die hoё werkloosheidskoers in Suid-Afrika aanpak nie. Sy glo vennootskappe tussen die privaat sektor en sakeversnellers is noodsaaklik om florerende ondernemings te skep en inklusiewe ekonomiese groei te bevorder. Die rol van opvoeding en werkservaring word ook as noodsaaklik beskou vir die sukses van bestaande programme.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het op Agri Oos-Kaap se jaarkongres beklemtoon dat dié sektor die stukrag kan wees vir ekonomiese groei in die provinsie. Steenhuisen sê kwessies soos beleids-onsekerheid, plaasmoorde, landelike misdaad en uitdagings met biosekerheid moet egter dringend opgelos word sodat die sektor kan groei. Hy sê landbou lewer ‘n beduidende bydrae tot die land se bruto binnelandse produk, en bied talle geleenthede vir groei, ontwikkeling en werkskepping:
# Action Society moedig die nuut-aangestelde voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, aan om die uitstaande misdaadsyfers te hanteer, die seksuele oortrederslys by te werk en iets te doen aan die DNS-agterstand. Hulle veroordeel ook die twee-miljard-rand wat toegeken is aan BBP-beskermingsdienste, en sê die fondse behoort heraangewend te word vir openbare veiligheid. Juanita du Preez van Action Society moedig Cameron aan om met hulle te skakel om die regstelsel te verbeter en die veiligheid van alle burgers te verseker:
# Olimpiese Spele: Drie Suid-Afrikaanse swemmers neem vanaand aan halfeindrondes deel. Tatjana Smith, wat Maandag goud verower het in die 100-meter borsslag het, het haar sprankelende vorm in die 200-meter borsslag voortgesit toe sy haar uitdun in die vinnigste kwalifiseringstyd gewen het. Kaylene Corbett was tweede in dieselfde uitdun. Die halfeindronde is vanaand net na tien. Pieter Coetzé het ook beïndruk in die 200-meter rugslag deur sy uitdun te wen in die derde vinnigste kwalifiseringstyd. Die halfeindronde vind vanaand 9.47 plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-357-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-418-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….