Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank waarsku klimaatsverandering plaas finansiële druk op Suid-Afrika
# Green Connection verwelkom TotalEnergies se besluit om afstand te doen van twee olie-projekte in SA
# En, die Olimpiese Spele: Tatjana Smith en Kaylene Corbett dring deur na die halfeindronde van die 200m borsslag
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku klimaatsverandering sal in die komende jare waarskynlik ‘n negatiewe uitwerking op die ekonomie hê. Natuurrampe soos die onlangse winterstorms in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal raak erger en kom meer gereeld voor. Kganyago sê as deel van die poging om die uitwerking van klimaatsverandering te verstaan en te bekamp, sal klimaatverwante risiko’s toenemend deel wees van die bank se strestoets-scenarios.
# Die omgewingsbelangegroep Green Connection het TotalEnergies se aankondiging verwelkom dat hy afstand gaan doen van twee aflandige olie- en gasprojekte in Suid-Afrika. ‘n Filiaalmaatskappy van TotalEnergies het ‘n belang van 45-persent in ‘n gebied aan die suidkus waar die Brulpadda- en die Luiperd-veld ontdek is. Lisa Makuala van Green Connection sê beleggings in fossielbrandstowwe wat klimaatsverandering veroorsaak, behoort in die verlede, want daar is genoeg reserwes vir ‘n oorgang na volhoubare energie:
# Die AmaZulu-koning Misuzulu kaZwelithini beloof om KwaZulu-Natal se ekonomie te verbeter deur toerisme, samewerkende regering en misdaadvoorkoming. Hy het bende- en geslagsgeweld veroordeel tydens die opening van die provinsiale wetgewer se sewende administrasie, en voorspraak gemaak vir ‘n verenigde benadering om inwoners se uitdagings te hanteer. Die koning vra die mense van KwaZulu-Natal om saam te werk vir die ontwikkeling van die provinsie:
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaners Tatjana Smith en Kaylene Corbett het die eerste twee plekke behaal in hulle uitdun in die 200 meter borsslag. Smith, wat Maandag goud verower het in die 100 meter borsslag, het die muur geraak in twee-minute-21,57-sekondes, met Corbett tweede in twee-minute-23,08-sekondes. Die halfeindronde vind vanaand net voor tien-uur plaas en die eindronde môreaand net na nege. Pieter Coetzé van Suid-Afrika is ook deur na die halfeindronde van die 200-meter rugslag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-144-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-421-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, gaan vandag die hoofrede lewer tydens die Nelson Mandela-gedenklesing in Vryheidspark in Pretoria. Die tema van die lesing is 30 Jaar van Demokrasie in Suid-Afrika -‘n Ontrafeling van die Ontstaan van die Regering van Nasionale Eenheid. Die uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-museum, Vuyani Booi, sê die lesing sal lig werp op Mandela se bydrae tot demokrasie en die vorming van die eerste regering van nasionale eenheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….