Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle gaan ‘n nuwe aanslag hê vir die uitdaging wanneer hulle Australië volgende naweek in Brisbane takel. Die Bokke kon die Wallabies nog net een keer in Australië klop met Erasmus aan die stuur. Die groep reis vandag na die land waar die Wêreldbekertoernooi in 2027 gehou word, om so gou moontlik by die klimaat aan te pas. Erasmus sê hulle wil deeglik voorberei wees teen die tyd dat die toetse begin:
# Nou heelwat nuus oor die Olimpiese Spele: Simone Biles is nou die Amerikaanse gimnas wat die meeste Olimpiese medaljes in die geskiedenis verower het, na sy die Amerikaanse vrouegimnastiekspan na ‘n goue medalje in Parys gelei het. Biles en haar spanmaats, Sunisa Lee, Jordan Chiles, Jade Carey en Hezly Rivera, het byna ses punte voor Italië geëindig, wat hulle eerste artistieke gimnastiekmedalje in 96 jaar verower het. Brasilië het die bronsmedalje verower – die eerste spanmedalje in die land se geskiedenis. Biles het nou vyf goue medaljes, een silwer en twee brons.
Die Britse tennisspelers, Andy Murray en Dan Evans, is deur na die kwarteindronde van die mans-dubbelspel in Parys. Hulle het twee wedstrydpunte afgeweer om Sander Gille en Joran Vliegen van België 6-3, 6-7, 11-9 te klop. Murray gaan ná die Spele uittree. Die Spaanse paar, Rafael Nadal en Carlos Alcaraz, is ook deur na die kwarteindronde nadat hulle die Nederlanders, Tallon Griekspoor en Wesley Koolhof, 6-4, 6-7, 10-2 verslaan het.
Donna Vekić van Kroasië is deur na die kwarteindronde van die tenniskompetisie in Parys nadat sy die wêreld nommer twee, Coco Gauff, uitgeskakel het. Die wedstryd het op omstrede wyse geëindig nadat die Amerikaner die skeidsregter van kullery beskuldig het oor ‘n lynbeslissing wat herroep is. Die toesighouer het later tussenbeide getree, met die skeidsregter saamgestem en ‘n tranerige Gauff gemaan om versigtig te wees met haar taalgebruik. Vekić, die wêreld nommer 21, het uiteindelik 7-6, 6-2 geseëvier.
Die organiseerders is intussen nie te bekommerd nie nadat verskeie atlete positief getoets het vir Covid-19. Onder hulle is die Britse swemmer Adam Peaty, verskeie Australiese vrouewaterpolospelers, en die Australiese swemmer Lani Pallister, wat onttrek het aan die een-duisend-500-meter vryslag om haar kragte te spaar vir die vier-maal-200-meter vryslag. Woordvoerder Anne Descamps sê die protokol is dat atlete wat positief getoets het maskers moet dra, maar daar is baie min Covid-19-gevalle in Frankryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….