Nuus 07:00
BULLETIN 31 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die vrystelling van agterstallige misdaadstatistieke
# Israel voer ’n lugaanval uit op ‘n Hisbolla-bevelvoerder in Beiroet
# En rugby: Die Bokke probeer ‘n nuwe benadering vir hul kragmeting teen Australië
# Die DA verwelkom die nuus dat die agterstallige misdaadstatistiek volgende maand vrygestel sal word. Die party se nasionale woordvoerder oor die polisie, Ian Cameron, is bekommerd oor die onbeteuelde misdaad in Suid-Afrika. Dit sluit in die moord op ‘n onderwyser in KwaZulu-Natal en massaskietvoorvalle die naweek. Hy sê die statistiek sal die SAPD se maatreëls onthul om misdaad te bestry:
# Eskom het 6,5-miljoen van sy 6,9-miljoen meters vooraf gekodeer om ‘n seepgladde oorgang te bewerkstellig na die spertyd van 24 November. Die vooraf-kodering help klante om steeds elektrisiteit sonder probleme te kan koop. ‘n Woordvoerder van Eskom, Monde Bala, benadruk die meters sal gereed wees om koopbewyse te aanvaar of kan weer doodmaklik gekodeer word. Kliënte moet alle ou bewyse gebruik voor nuwes ingevoer word. Eskom waarsku teen swendelaars en raai mense aan om bewyse by goedgekeurde afsetpunte aan te skaf.
# Die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, het amptenare wat betrek word by vermeende finansiële onreëlmatighede in die Kommissie vir die Herstel van Grondregte, se onmiddellike skorsing goedgekeur. Die hoof-grondeisekommissaris, Nomfundo Ntloko, sê hulle het reeds ‘n proses begin om swakpunte wat in die Standaard Bedryfsprosedures geïdentifiseer is, aan te spreek en reg te stel. Minister Nyhontso sê korrupsie ondermyn die voorneme om grondregte te herstel en vergoeding aan regmatige begunstigdes te verskaf.
# Die Onderwysdepartement in Gauteng gaan ‘n Diversifisering en Maatskaplike Samehorigheidsprogram instel by die Pretoria High School for Girls. Die LUR vir Onderwys en Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Matome Chiloane, sê die program sal gelei word deur die leerderbestuursliggaam met die samewerking van die ouers. Hy sê die inisiatief is gemik op die hantering van die grondoorsake van rassisme in skole en om oplossings voor te stel:
# Die Israelse Weermag sê hy het ʼn lugaanval uitgevoer teen ʼn senior Hisbolla-bevelvoerder verantwoordelik vir Saterdag se dodelike aanval in die Golan-hoogte. Die stad het ʼn wraakaanval verwag na die naweek se aanval waarin 12 kinders dood is terwyl hulle sokker gespeel het. Israel en Amerika blameer Hisbolla vir die aanval, maar die groep ontken dit. Israel se minister van Verdediging, Yoav Gallant, sê Hisbolla het met Saterdag se aanval te ver gegaan.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle gaan ʼn nuwe aanslag hê vir die uitdaging wanneer hulle Australië volgende naweek in Brisbane takel. Met Erasmus aan die stuur, kon die Bokke die Wallabies nog net een keer in Australië klop. Die groep reis vandag na die land waar die Wêreldbeker in 2027 gehou word om so gou moontlik by die klimaat aan te pas. Erasmus sê hulle wil deeglik voorberei wees teen die tyd dat die toetswedstryde begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-218-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-407-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….