Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu vra die regering vir besliste optrede om te sorg dat skole veilig is
# Save South Africa vra ‘n noodtoestand oor misdaad
# En, die Blitsbokke land in Kaapstad met hulle Olimpiese bronsmedaljes
# Die vakbondfederasie Saftu versoek die regering vir besliste optrede om te sorg dat leerders en onderwysers veilig kan wees by skole. Dit volg nadat twee gewapende aanvallers gister ‘n onderwyseres ten aanskoue van leerders en haar kollegas doodgeskiet het by die Laerskool Phikiswayo in Ntuzuma, Durban. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê ‘n skool moet altyd ‘n plek van veiligheid en onderrig wees:
Die burgerlike organisasie, Save South Africa, doen intussen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ʼn noodtoestand oor misdaad af te kondig. Die land se moordsyfer het die laaste kwartaal van 2023 met twee-persent gestyg tot byna agt-duisend mense. Seksuele oortredings het effens afgeneem. Die organisasie se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê die land is in misdadigers se hande en die enigste strategiese manier om dit te pak, is deur ʼn noodtoestand af te kondig:
# Die Suid-Afrikaanse Lugvaart-, Maritieme en Verdedigings-nywerheidsvereniging het die Parlement se voorneme verwelkom om nuwe lewe te blaas in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Die portefeuljekomitee vir Verdediging en Militêre Veterane het bevestig hy sal voldoende fondse verseker, veral vir die Weermag se huidige ontplooiing in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die vereniging sê hy is gewillig en gereed om saam met die regering te werk om die land se verdedigings- en sekerheidsvermoë te versterk.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse mans sewes-rugbyspan sal vanmiddag vanuit Parys op die Kaapstadse Internasionale Lughawe aanland. Die span, met afrigter Philip Snyman en Selvyn Davis as kaptein, het brons verower deur Australië 26-19 te verslaan in die uitspeelstryd om derde plek. Snyman skryf die oorwinning toe aan die spelers se toewyding ondanks ‘n seisoen vol uitdagings wat daartoe gelei het dat hulle eers op die nippertjie vir die Spele kon kwalifiseer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-947-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-390-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane se afdeling vir Gemeenskaps- en Maatskaplike Ontwikkeling het die jongste insluiting van Suid-Afrikaanse terreine vir bevryding en menseregte as UNESCO Wêrelderfenisgebiede verwelkom. Dit sluit die Uniegebou en Konstitusieheuwel in. Die afdeling sê die insluiting is belangrik omdat dié terreine wetlik deur internasionale verdrae beskerm en erken word as belangrik vir die hele mensdom. Hy sê die terreine het kulturele en geskiedkundige waarde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….