Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder moedig Zuma aan om die vredespyp te rook en nie sy uitsetting uit die ANC uit te daag nie
# Nedbank ontken aansprake van ‘n wins van meer as 2,7-miljard-rand
# En, die Olimpiese Spele: Die bergfietsryer Alan Hatherley beklink Suid-Afrika se tweede medalje in Parys
# Die politieke ontleder Ongama Mtimka raai oudpresident Jacob Zuma aan om sy uitsetting uit die ANC te aanvaar. Die party se nasionale tugkomitee het hom skuldig bevind aan wanoptrede. Zuma, wat vir die MK-party ‘n veldtog gevoer het teen die ANC, het 21 dae om te appelleer. Mtimka moedig Zuma aan om nie appèl aan te teken nie:
# Nedbank het die Spesiale Ondersoekeenheid en Transnet se aansprake verwerp oor beweerde 2,7-miljard-rand rentekoers-uitruilooreenkomste vir een-duisend-64 lokomotiewe. Die saak kan 20-persent van Nedbank se verdienste in 2023 uitwis. Die woordvoerder van die eenheid, Kaizer Kganyago het aan die SABC gesê die uitruilings, wat verbind word met staatskaping tussen 2015 en ’16, behoort nietig verklaar te word:
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, word later die week aangewys as die Demokratiese Party se kandidaat vir die verkiesing in November. Die voorsitter van die nasionale komitee, Jaime Harrison, het bevestig verteenwoordigers sal Donderdag hieroor stem nadat vroeër aangekondig is hulle gaan nie wag vir die nasionale konvensie later hierdie maand nie. Harris se veldtog sê intussen dit het 3,6-miljard-rand in skenkings ontvang sedert president Joe Biden ‘n week gelede sy onttrekking uit die wedloop aangekondig het. Sowat 170-duisend vrywilligers het ook aangemeld.
# Olimpiese Spele: Die bergfietsjaer Alan Hatherly het nog ‘n medalje vir Span Suid-Afrika in Parys verower toe hy derde gekom het in die veldrit-afdeling. Thomas Pidcock het goud verower en die Fransman, Victor Koretzky, die silwer. Dit is Suid-Afrika se eerste Olimpiese fietsrymedalje sedert die Spele in Melbourne, Australië, in 1956 en stoot die land se telling op tot twee nadat die Blitsbokke Saterdag ook brons ingepalm het.
Nog nuus van die Spele: Novak Djokovic van Serwië het in die tennisenkelspel maklik klaargespeel met sy ou teenstander, Rafael Nadal. Die Spanjaard, wat ‘n 14-malige Franse Ope-kampioen op dieselfde bane van Roland Garros is, was in die eerste stel ‘n skadu van sy ou self. Hy het in die tweede teruggeveg, maar stoom verloor en Djokovic het 6-1, 6-4 gewen. Die 38-jarige Nadal, wat na verwagting dié jaar sal uittree, ding nog mee in die mansdubbels saam met sy jong landgenoot Carlos Alcaraz.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-805-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-390-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….