Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Franse oliereus, TotalEnergies, het bekendgemaak hy onttrek van twee aflandige gasvelde in Suid-Afrika aangesien dit oënskynlik nie ekonomies lewensvatbaar is nie. ‘n Filiaal van TotalEnergies besit ‘n 45-persent-aandeel in ‘n gebied teenaan die land se suidkus waar die velde, Brulpadda en Luiperd, ontdek is. Volgens TotalEnergies kon dit nie in ‘n kommersiële ontwikkeling omskep word nie aangesien dit wil voorkom asof dit te veel van ‘n uitdaging sou wees om hierdie gasontdekkings ekonomies te ontwikkel vir die Suid-Afrikaanse mark.
# Olimpiese Spele: Voorbereiding vir die driekamp is die tweede agtereenvolgende dag afgestel weens besoedeling in die Seine-rivier in Parys. Die organiseerders en Wêreld-driekamp sê toetse toon die watergehalte is nie op standaard nie. Die mans se driekamp is veronderstel om môre te begin. Indien die watergehalte nie verbeter nie, sal die swemskof tot later die week uitgestel word, of dan afgestel word as dit nie kan voortgaan nie. Die watergehalte was goed totdat swaar reën dit die naweek verswak het.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioverskeidenheids-instituut sê die Nasionale Dieretuin in Pretoria se Afrika-olifantbul, Charley, gaan weens sy gevorderde ouderdom uittree. Charley is ‘n geliefde inwoner van die dieretuin, wat die afgelope 23-jaar sy tuiste was. Die instituut sê tydens sy verblyf het hy nie net duisende besoekers vermaak en ingelig nie, maar ook tot navorsingsprogramme bygedra wat van onskatbare waarde vir die bewaring en bestuur van olifante is. Charley gaan na die Shambala-privaat wildtuin in Limpopo verskuif word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….