Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons het heelwat nuus oor die Olimpiese Spele: Suid-Afrika se swem-ster, Tatjana Smith, is deur na die eindronde van die vroue se 100 meter-borsslag in Parys. Die 27-jarige Smith het met een-minuut-vyf-sekondes die vinnigste tyd in albei halfeindronde-uitdunne behaal wat slegs 0,18 sekondes stadiger is as haar Olimpiese rekord in Tokio. Pieter Coetzé het gelykop tweede geëindig in die mans se 100 meter-rugslag-halfeindronde en is deur na die eindronde. Sy tyd van 52,63 sekondes is ‘n nuwe Afrika-rekord. Aimee Canny was sesde in die vroue se 200 meter-vryslag en het ʼn plek in die eindronde verbeur.
Smith, wat goud en silwer in Tokio verower het, sê sy plaas nie druk op haarself voor die eindronde nie:
Voorbereiding vir die driekamp is die tweede agtereenvolgende dag afgestel weens besoedeling in die Seine-rivier in Parys. Die organiseerders en Wêreld-driekamp sê toetse toon die watergehalte is nie op standaard nie. Die mans se driekamp is veronderstel om môre te begin. Indien die watergehalte nie verbeter nie, sal die swemskof tot later die week uitgestel word, of dan afgestel word as dit nie kan voortgaan nie. Die watergehalte was goed totdat swaar reën dit die naweek verswak het.
Twee van tennis se mees gevierde spelers, die Spanjaard Rafael Nadal en Novak Djokovic van Serwië, gaan vandag in die tweede ronde in Parys vir ‘n rekord 60ste keer in hulle loopbane teen mekaar te staan kom. Nadal het die Hongaar Marton Fucsovics in drie stelle verslaan, terwyl Djokovic maklik met die Australiër Matt Ebden afgereken het. Die gouemedaljewenner op die Spele in Tokio, Alexander Zverev van Duitsland, die Noorweër Casper Ruud en Stefanos Tstitsipas van Griekeland is ook deur die tweede ronde.
# Ons sluit af met motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het die Belgiese Grand Prix opgeraap nadat sy Mercedes-spanmaat, George Russell, gediskwalifiseer is. Russell was die wenner ná ʼn eenstop-strategie waar hy met harde bande die geruite vlag ingepalm en Hamilton met ʼn halwe sekonde geklop het. Daar is egter ná die wedren bevind sy voertuig was ondergewig. Oscar Piastri van McLaren is na die tweede plek bevorder en Charles Leclerc van Ferrari na die derde plek. Hamilton sê hy is tevrede met die motor se werkverrigting:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….