Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verhoor van adunkpresident Mashatile se BBP-lede word hervat
# Cosatu sê maatskappyewette is kragtige wapens in die stryd teen korrupsie in die korporatiewe sektor
# En, die Olimpiese Spele: Tatjana Smith plaas geen druk op haarself voor die eindronde van die 100 meter-borsslag nie
# Die verhoor van agt lede van adjunkpresident Paul Mashatile se BBP-beskermingseenheid hervat vandag in die Randburgse Landdroshof. Hulle is verlede jaar op kamera betrap toe hulle ‘n motoris op die N1 naby die Winnie Mandela-afrit in Gauteng aangerand het. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle staan tereg op aanklagte van onder meer aanranding, opsetlike saakbeskadiging, regsverydeling en intimidasie:
# Cosatu het president Cyril Ramaphosa se ondertekening van twee wette op maatskappye verwelkom. Die vakbondfederasie se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle loof die regering vir die dapper, pro-werker, teen-korrupsie wette. Parks sê die wette is kragtige wapens in die stryd teen korrupsie in die korporatiewe sektor, en sal die privaat sektor en staatsondernemings in die rigting van ‘n meer gelyke en regverdige vergoedingstruktuur stuur:
# Die Stad Johannesburg betwis die Sensus 2022-data wat toon dat sy bevolking 4,8-miljoen is, 20-persent laer as vorige ramings. Johannesburg se bevolking het sedert 2011 gestagneer, en is slegs 8,3-persent groter, terwyl Kaapstad se bevolking sedert 2011 met 27,6-persent toegeneem het. Johannesburg sê hy gaan nie die data vir beplanningsdoeleindes aanwend nie en gaan voort om vir ‘n bevolking van ses miljoen te beplan. Statistieke Suid-Afrika sê die sensus-uitslae is geldig verklaar en die data word so behou.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se swem-ster, die 27-jarige Tatjana Smith, sê sy is trots op haar prestasie in die 100 meter-borsslag in Parys waar sy die vinnigste kwalifiseerder was. Intussen het Pieter Coetzé ‘n nuwe Afrika-rekord van 52,63-sekondes in die 100-meter-rugslag vir mans opgestel. Hy het gesamentlik tweede klaargemaak in die laaste uitdun om die eindronde te bereik. Smith het goud en silwer in Tokio gewen en sê sy plaas nie druk op haarself voor die eindronde nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-628-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-389-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioverskeidenheids-instituut sê die Nasionale Dieretuin in Pretoria se Afrika-olifantbul, Charley, gaan weens sy gevorderde ouderdom uittree. Charley is ‘n geliefde inwoner van die dieretuin, wat die afgelope 23-jaar sy tuiste was. Die instituut sê tydens sy verblyf het hy nie net duisende besoekers vermaak en ingelig nie, maar ook tot navorsingsprogramme bygedra wat van onskatbare waarde vir die bewaring en bestuur van olifante is. Charley gaan na die Shambala-privaat wildtuin in Limpopo verskuif word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….