Nuus 09:00
BULLETIN 29 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se sake teen EU-sitrusmaatreëls vorder
# Julius Malema sê die nuwe regering streef steeds ‘n neo-koloniale ekonomie na
# En, Olimpiese Spele: Nadal is gereed vir ‘n kragtoer teen Djokovic
# Suid-Afrika se versoek dat twee panele by die Wêreld Handelsorganisasie die Europese maatreëls oor sitrusinvoere moet ondersoek, is aanvaar. Hierdie stappe is gedoen om die regulasies oor die Sitruis-swartkol en Vals Kodlingmot aan te spreek. Die regering sê die regulasies word bevraagteken ten einde die lewensbestaan van tienduisende mense in die plaaslike sitrusbedryf te beskerm. Volgens Suid-Afrika is daar geen wetenskaplike basis vir hierdie regulasies nie en dit kos die land jaarliks 3,7-miljard-rand. Die paneelfase begin binnekort met die beoordeling.
# Die MK-party sê dis skandelik dat ‘n dokument van die ANC se nasionale tugkomitee waarin Zuma uit die party geskors word, uitgelek het. Die komitee het Zuma skuldig bevind dat hy die ANC se grondwet oortree het en aanbeveel dat hy geskors word. Die oudpresident is verlede week virtueel verhoor met die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, as hoofgetuie. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, het aan die SABC gesê hulle het nog geen amptelike kommunikasie van die ANC ontvang nie:
# Die EFF-leier Julius Malema sê die land se nuwe leierskap is ‘n koalisie van die ANC en die DA, wat hom as ‘n regering van nasionale eenheid voordoen. Hy voer aan Suid-Afrika kan nie verenig word deur mense wat staatsondernemings wil privatiseer nie. Malema het die naweek in Kimberley in die Noord-Kaap gepraat en die regering daarvan beskuldig dat hy op die privaatsektor en markte staatmaak om ongelykheid, chroniese werkloosheid en armoede op te los:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering gaan ‘n reeks evaluerings van infrastruktuur in die provinsie doen. Hy het gister ‘n gedetailleerde verslag ontvang oor die bedryf van die Vaalrivierstelsel en sy grootmaatwatertoevoer aan Gauteng en ander provinsies, insluitend infrastruktuuronderhoud. Lesufi het inwoners verseker dat die onderhoud wat Rand Water op sy stelsels doen, so vinnig as moontlik geskied om watertoevoer na geraakte gebiede te herstel:
# Olimpiese Spele: Twee van tennis se mees gevierde spelers, die Spanjaard Rafael Nadal en Novak Djokovic van Serwië gaan vir ‘n rekord 60ste keer in hulle loopbane vandag in die tweede ronde in Parys teen mekaar te staan kom. Nadal het die Hongaar Marton Fucsovics met 6-1, 4-6, 6-4 geklop terwyl Djokovic maklik met die Australiër Matt Ebden afgereken het. Nadal hou die rekord van 112 stelle teenoor 4 op Roland Garros waar hy 14-keer as kampioen gekroon is. Die goue medalje wenner by die Tokio-spele, Alexander Zverev van Duitsland, die Noorweër Casper Ruud en Stefanos Tstitsipas van Griekeland is ook deur die tweede ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-381-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-394-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….