Nuus 09:00
BULLETIN 28 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reguleringsowerheid vir privaatsekerheid ondersoek die onwettige militêre opleidingskamp in Mpumalanga
# Tshwane ontplooi watertenkwaens in gemeenskappe wat deur Rand Water se roetine-onderhoud geraak word
# En, rugby: Die Bulle oorheers steeds die Curriebekerseisoen
# Die Reguleringsowerheid vir die Privaatsekerheidsbedryf, PSiRA, sê sy ondersoek na die onwettige militêre opleidingskamp naby Witriver in Mpumalanga duur voort en kry dringend aandag. Die woordvoerder van PSiRA, Mpho Sechoaro, sê hulle het laat verlede week te hore gekom dat ‘n sekerheidsverskaffer, Milites Dei-sekerheidsdienste, wat by die owerheid geregistreer is, militêre styl opleiding aan 95 Libiese burgers op ‘n plaas verskaf:
Die ATM sê intussen Suid-Afrika bly ‘n hoë-risiko bestemming weens ongedokumenteerde immigrante, geldwassery, befondsing van terrorisme en ander onwettige bedrywighede. Die ATM se nasionale woordvoerder, Zama Ntshona, het reageer op die arrestasie van die Libiese burgers. Hy sê die party doen ‘n beroep op die regering vir onmiddellike en omvattende optrede om die stelseltekortkomings aan te spreek en die veiligheid van burgers te verseker:
# Die Stad Tshwane het watertenkwaens in verskeie gebiede in Streke 2, 3 en 6, ontplooi wat reeds ‘n watertoevoeronderbreking ervaar. Dit is vanweë Rand Water se omvattende instandhoudingsprogram van hulle Mapleton-stelsel wat water aan Tshwane verskaf. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê watertenkwaens sal van sewe-uur die oggend tot tien-uur saans in Mamelodi, Olympus, Parkmore, Garsfontein, Grootfontein en Monumentpark in bedryf wees vir die duur van die diensonderbreking:
# Israel sê twaalf mense, onder wie kinders, is dood in ‘n missielaanval op ‘n sokkerveld in die besette Golan-hoogte. Hulle blameer die Libanese militante groep Hezbollah, wat die bewering ontken. Die Israelse Weermag sê hulle berei voor vir teenoptrede na die dodelikste aanval op sy grondgebied sedert die begin van die konflik in Gaza. Vroeër gister is minstens 30 Palestyne dood in ‘n Israelse aanval op ‘n meisieskool wat deur hawelose mense in die stad Deir Al-Balah in sentraal-Gaza, gebruik word.
# En, rugby: Die Bulle het die Westelike Provinsie gister in ‘n Curriebekerwedstryd op Loftus Versfeld met 50-34 kafgedraf. Die losskakel Jaco van der walt het 25 punte aangeteken, met die Bulle wat ‘n agterstand van 24-punte omgekeer het om te wen. Dit was WP se derde nederlaag dié seisoen. In Johannesburg het die Haaie die Leeus verras met ‘n bonuspuntoorwinning van 35-22 op Ellispark. Die Junior Springbok Jurenzo Julius het twee drieë in sy debuut vir die Haaie aangeteken, terwyl die veteraan losskakel Lionel Cronje 15 punte met die skopskoen bygedra het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….