Nuus 08:00
BULLETIN 28 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu onthul die eienaars van ‘n militêre opleidingskamp in Mpumalanga het oortredings begaan
# Die ANC Jeugliga sê korrupsie by grensposte ondermyn nasionale veiligheid
# En, Olimpiese Spele: Brons vir die Blitsbokke en goud vir Frankryk
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die eienaars van die militêre kamp naby Witrivier in Mpumalanga, waar 95 Libiërs gearresteer is, het aansoekregulasies oortree. Mchunu het die media oor die onlangse ontdekking van die vermeende opleidingskamp in Masoyi toegespreek. Hy sê die Libiërs sal binnekort gedeporteer word, maar nie voor die ondersoek afgehandel is nie:
Die ANC-jeugliga sê intussen korrupsie by grensposte ondermyn nasionale veiligheid deur mense toe te laat om die land binne te kom sonder behoorlike ondersoek. Die ANCYL se woordvoerder, Zama Khanyase, sê die party eis ‘n omvattende hersiening van grensbeheeroperasies om te verseker dat hulle toegerus is om onwettige toegang tot die land te voorkom. Khanyase sê Binnelandse Sake moet ook interne korrupsie aanspreek wat individue in staat stel om die immigrasiestelsel uit te buit.
# Die Padvragvereniging neem kennis van die korporatiewe lening aan Transnet van 18,85-miljard-rand van die Afrika Ontwikkelingsbank. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Gavin Kelly, sê hoewel dit ‘n stap in die regte rigting is, moet noukeurige bestuur van die toegewysde fondse, aanspreeklikheid, fiskale beheer en werklike verbetering van Transnet se bedrywighede, streng gemonitor word:
# En, die Olimpiese Spele: Suid-Afrika se sewes-rugbyspan het ‘n bronsmedalje in Parys ingepalm na hulle in die halfeindstryd met 26-19 teen Australië verloor het. Zain Davids het twee drieë vir die Blitsbokke gedruk. Hulle het vroeër daarin geslaag om Nieu-Zeeland met 14-7 uit te skakel in ‘n opwindende atmosfeer in die Stade de France wat met 130-duisend toeskouers volgepak was. Die skare het éérs wild tekere gegaan toe Les Bleus vir Fidji in die eindstryd met 28-7 geklop het. Die voormalige Wêreldspeler van die Jaar, Antoine Dupont, het twee drieë bygevoeg in die wedstryd wat as een van die grootste oomblikke in Franse rugby beskryf word.
# En, die Universiteit van die Wes-Kaap het ‘n vennootskap met die Departement van Water en Sanitasie en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad op die been gebring om grondwater-aanvullingsmetodes in De Aar in die Noord-Kaap na te vors. Dit is gemik op die volhoubare gebruik van grondwaterbronne in ‘n dorp waar mens en dier van die noodsaaklike bron afhanklik is. Die Karoodorp is die hoofkwartier van die Emthanjeni-munisipaliteit en die Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit waar volhoubare watertoewysing lewensnoodsaaklik is vir ontwikkelingsbedrywighede. ‘n Sleutelaspek van die projek is samewerking met plaaslike boere om die aard van grondwaterstelselgebruik te toets.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….