Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Menseregtekommissie waarsku oor ‘n moontlike herhaling van die onluste van Julie 2021
# Action Society verwelkom die paroolhersiening van ‘n kindermoordenaar
# En, krieket: Die Proteas gaan probeer om hulle Wêreld-toetskampioenskaps-veldtog in die Karibiese Eilande op koers te kry
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie waarsku oor ‘n moontlike herhaling van die onluste van Julie 2021. Kommissaris Tshepo Madlingozi wys op wydverspreide ontnugtering oor pogings tot nasiebou, swak koördinering van sektore en ‘n kultuur van straffeloosheid. Hy benadruk die noodsaaklikheid van ‘n maatskaplike en nasionale dialoog om die uitdagings aan te pal waarvoor Suid-Afrikaners te staan kom en die geloof in demokratiese instellings te herstel:
# Action Society verwelkom die besluit van die Departement van Korrektiewe Dinste om die parool te hersien van die voormalige polisie-offisier Marius van der Westhuizen, wat in 2006 sy drie kinders vermoor het in Brackenfell, Kaapstad. Hy het net 13 jaar van sy vonnis van 24-jaar uitgedien. Van der Westhuizen se saak is nou onder hersiening na ‘n verslag van die paroolraad. Kaylynn Palm van Action Society hoop die hersiening sal op die regte besluit uitloop:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het 90-persent van omgeswaaide terugbetalings vrygestel na ‘n ondersoekproses wat minstens 30-duisend belastingbetalers raak. Die oorblywende terugbetalings word Maandag gedoen of daar sal gekommunikeer word met diegene wat dokumentasie moet voorlê. SAID vra om verskoning vir verwarring en verduidelik alle terugbetalings word gedoen nadat vasgestel is of dit geldig is. Terugbetalings word binne twee tot 21 werksdae oorweeg. Die SAID het sedert die aanvang van die belastingseisoen terugbetalings van 14-miljard-rand aan 1,5-miljoen belastingbetalers gedoen, met 83-persent wat binne 72-uur verwerk is.
# Internasionale kakao-pryse styg te midde van vrese van ‘n tekort. Die bedryfsreguleerder in Ghana, Cocobod, het planne bekendgemaak om die totale oes vir 2024/25 op grond van produksie toe te ken wat vrese laat ontstaan oor die herstel van die oes. Ongunstige weer het Ghana en Ivoorkus geraak, hoewel laasgenoemde volgende seisoen na verwagting na twee-miljoen-ton sal terugkeer. Ghana se produksie sal na verwagting styg van 425-duisend tot 700-duisend-ton, maar twyfel bly. Oxford Economics Africa verwag voortgesette prys-onbestendigheid en onsekere herstel van kakaoproduksie in albei lande.
# Krieket: Die Proteas se toetsspan is op pad na die Karibiese Eilande om hulle besigste tyd van rooibal-krieket te begin en te probeer om hulle Wêreld-toetskampioenskapsveldtog op koers te kry. Suid-Afrika is tans agtste op die punteleer, maar het nog net vier toetse gespeel. Die reeks teen die Windies is die eerste van vier toetsreekse vir Suid-Afrika van nou tot Januarie. Kaptein Temba Bavuma sien uit na toetskrieket:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-214-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-376-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….