Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie hou 95 Libiërs aan vir vermeende militêre opleiding in Mpumalanga
# Die ANC verwelkom die aanstelling van regter Mandisa Maya as hoofregter
# En, die Olimpiese Spele: Frankryk sal wil wraak neem vir sy Wêreldbeker-nederlaag in môre se sewes-halfeindstryd
# Die polisie in Mpumalanga het 95 Libiese burgers vir ondervraging in hegtenis geneem nadat hulle by ‘n vermeende militêre kamp in Witrivier aangetref is. Hulle het na bewering wanvoorstellings op hulle visumaansoeke gedoen en aangedui hulle kom na Suid-Afrika vir opleiding as sekerheidswagte. Die polisie ondersoek ook moontlike bande met ander misdadige optrede. Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sekerheid en Skakeling, Jackie Macie, bevestig die Libiërs is sedert April in die land en word tans deur owerhede ondersoek:
# Die ANC verwelkom president Cyri Ramaphosa se aanstelling van adjunk-hoofregter Mandisa Maya as hoofregter. Die ANC se waarnemende woordvoerder, Zuko Godlimpi, sê haar kwalifikasies en regbank-rekord, leierskapseienskappe, ondervinding as ‘n regter in verskeie howe, haar vorige leierskap van die Appèlhof, en huidige rol as adjunk-hoofregter, maak haar uiters geskik om die regbank te lei. Godlimpi sê Mayay het ‘n noodsaaklike rol gespeel in die behoud van die geloofwaardigheid en vertroue in die regbank:
# Suid-Afrika se e-handelsektor gaan teen 2025 meer as 400-miljard-rand oorskry met meer as ‘n miljard transaksies jaarliks. Volgens ‘n studie deur World Wide Worx is dit te danke aan verhoogde internetverbinding en slimfoongebruik. Innovering in finansiële tegnologieë en digitale betalings het ook klante-ervarings verbeter, terwyl supermarkkettings en wêreldwye ondernemings soos Amazon uitbrei. Ten spyte van aansienlike groei, is daar steeds uitdagings soos hoë sake-koste, verouderde tegnologie en vaardigheidsgapings. Pogings om die digitale gaping uit te wis en kunsmatige intelligensie-tegnologie te benut, word as noodsaaklik geag vir volgehoue groei in die wêreldmark.
# Internasionale kakao-pryse styg te midde van vrese van ‘n tekort. Die bedryfsreguleerder in Ghana, Cocobod, het planne bekendgemaak om die totale oes vir 2024/25 op grond van produksie toe te ken, wat vrese laat ontstaan oor die herstel van die oes. Ongunstige weer het Ghana en Ivoorkus geraak, hoewel laasgenoemde volgende seisoen na verwagting na twee-miljoen-ton sal terugkeer. Ghana se produksie sal na verwagting styg van 425-duisend tot 700-duisend-ton, maar twyfel bly. Oxford Economics Africa verwag voortgesette prys-onbestendigheid en onsekere herstel van kakaoproduksie in albei lande.
# Olimpiese Spele: Môre se rugby-sewes-halfeindstryd tussen Suid-Afrika en die gasheer, Frankryk, word beskryf as ‘n wraakwedstryd ná die Springbokke Frankryk in die kwarteindronde van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi uitgeskakel het. Die kaptein van Frankryk se vyftienman-span, Antoine Dupont, wat die skeidsregter gekritiseer het na die teleurstellende nederlaag teen die uiteindelike kampioen, het intussen na sewes oorgeskakel en pak die Blitsbokke in dieselfde stadion, Stade de France. Suid-Afrika kan môremiddag 3.30 ‘n baie vyandige ontvangs verwag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-239-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….