Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Prinses Diana se briewe aan haar gesin se gewese huishoudster, Violet Collison, met die bynaam Collie, word Dinsdag deur Sworders in Stansted Mountfitchet, Essex, opgeveil. Die meeste is briewe wat Diana geskryf het om dankie te sê vir verjaarsdag- en Kersgeskenke aan William en Harry. Een handgeskrewe briefie is op 8 Julie 1981, drie weke voor haar troue met prins Charles, geskryf. Diana het dit op Buckinghampaleis se skryfpapier neergepen en sy vertel Collison daarin van die voorbereidings vir die troue. Collison is in 2013 op 89 oorlede.
# Die 17de Art Joburg-geleentheid word van ses tot agt September in die Sandton-konvensiesentrum aangebied. Moderne Afrikakuns en -kultuur word uitgestal. Die organiseerders sê Art Joburg speel ‘n belangrike rol om ʼn kommersiële kulturele ekostelsel te bevorder en onderhou, met ‘n fokus op kunstenaars op die vasteland en in die diaspora.
# Agt studente van die Walter Sisulu-universiteit gaan in September deelneem aan die streekronde van die Inter-universitêre Studente-ondernemerskapskompetisie. Die kompetisie spoor innovering, kreatiwiteit en ondernemerskapsvaardighede by universiteitstudente aan. Dit verskaf ‘n platform vir skeppende studente se idees. ‘n Universiteitswoordvoerder, Khanyisile Blaai, sê dit gaan nie net oor mededinging nie, dit is ook ‘n viering van vernuf en ondernemerskap.
# Die Noordwes-universiteit se Regsfakulteit sê sy klereprojek het ʼn noodsaaklike veldtog geword wat klere aan armes verskaf. Die projek wat vyf jaar gelede begin het, help mense in moeilike omstandighede deur klere te skenk aan verskeie maatskaplike dienssentrums en organisasies sonder winsbejag. Begunstigdes sluit in die Tharimpepe-voedingskema in Mahikeng, die In Need Indeed-sentrum in Lokaleng en Welsyn Fochville. Simon Rasikhalela van die universiteit sê hulle is trots op die uitwerking wat die projek op gemeenskappe het.
# En ten slotte: ‘n Vrag vonkelwyn wat op ‘n skeepswrak langs die kus van Swede ontdek is, was vermoedelik bestem vir ‘n Russiese tsaar. Die wrak van die 19de eeuse seilskip is onlangs in die Baltiese See gevind, waar duikers meer as 100 bottels vonkelwyn getel het. Die leier van die Poolse duikspan Baltitech, Tomasz Stachura, het aan die BBC gesê die vonds is ‘n skat. Die kleibottels met die naam van die Duitse maatskappy Selters daarop het die span gehelp om die wrak te dateer tot tussen 1850 en ’67.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….