Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement kritiseer die media oor die uitspraak oor die Nasionale Gesondheidsversekering
# Freedom Under Law daag Hlophe se aanstelling in die Regterlike Dienskommissie in die hof uit
# En, die Olimpiese Spele: Rafael Nadal oefen weer na vrese oor ‘n besering
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, gaan appèl aanteken teen die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak dat Artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheidsorg ongrondwetlik is. Hy het mediaberigte as misleidend gekritiseer wat sê die beslissing het ‘n uitwerking op die Nasionale Gesondheidsversekering. Die ministerie beplan om die hof se fokus uit te daag om ekonomiese eiendomsreg bo gesondheidsregte te ag. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, verduidelik die hofbeslissing raak nie die NGV nie:
# Freedom Under Law daag die Nasionale Vergadering se aanstelling van John Hlophe in die Regterlike Dienskommissie in die Wes-Kaapse Hooggeregshof uit. Die organisasie voer aan die besluit is onbehoorlik, onredelik en irrasioneel. Kommer is uitgespreek oor Hlophe, wat van die regbank verwyder is weens growwe wangedrag, om in die RDK te dien, wat regters aanstel. Uitvoerende beampte, Judith February, sê die regstappe is daarop gemik om regterlike onafhanklikheid te beskerm, asook die onpartydigheid van die RDK:
# Die EFF sê die aanstelling van Mandisa Maya as hoofregter sal wegdoen met die politieke inmengery sedert hoofregter Raymond Zondo se aanstelling. Sy is die eerste vrou in die amp. Haar termyn begin op een September. Die party sê Zondo het homself as politikus geïdentifiseer en die hoogste regsgesag in oneer gebring. Die EFF sê hy ondersteun Maya as baken van die reg.
# Olimpiese Spele: Franse veiligheidsmagte is besig met ‘n soektog na die verdagtes in vannag se brandstigtings-voorval wat die land se sneltreinnetwerk lamgelê het ure voor die openingseremonie in Parys. Eerste minister Gabrial Attal sê Franse intelligensiedienste en wetstoepassingseenhede is gemobiliseer om die oortreders op te spoor en te straf vir die misdaad. Hy het die aanvalle bestempel as beplande en gekoördineerde sabotasie teen die spoornetwerk, met ernstige gevolge.
Rafael Nadal oefen intussen vandag weer op Roland Garros nadat vrese oor ‘n besering ‘n demper geplaas het op sy deelname aan die tenniskompetisie. Die 14-malige Franse Ope-kampioen het saam met Carlos Alcaraz geoefen, saam met wie hy veronderstel is om môre in die mans-dubbelspel vir Spanje te speel. Die 38-jarige Nadal het ‘n verband aan sy regterbeen gehad nadat hy Woensdag ‘n dyspier seergemaak het, en kon nie gister oefen nie. Sy afrigter, Carlos Moya, sê hy veg hard om betyds fiks te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-277-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….