Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Frankryk se hoëspoedtreindienste word gesaboteer voor die openingseremonie van die Olimpiese Spele
# Die DA sê Zondo se bydraes om die Grondwet te handhaaf sal nie vergeet word nie
# En, prinses Diana se briewe aan die gesin se gewese huishoudster word opgeveil
# Frankryk se hoëspoed-treindienste was die teiken van talle kwaadwillige dade, insluitend brandstigting, in wat beskryf word as gekoördineerde sabotasie om reise te ontwrig voor vanaand se openingseremonie van die Olimpiese Spele in Parys. Die Franse nasionale spoorwegmaatskappy beskryf die ontwrigting as ‘n reuseaanval wat daarop gemik was om die hoëspoed-spoorlynnetwerk te verlam. ‘n Groot aantal ritte is herlei of gekanselleer, wat sowat 800-duisend reisigers geraak het. Die spoorwegoperateur sê die ontwrigting raak die Atlantiese, Noordelike en Oostelike hoëspoed-spoorlyne, met skade by verskeie van sy instellings.
# Die DA het sy opregte dank teenoor regter Raymond Zondo uitgespreek wat as hoofregter aftree. ‘n Woordvoerder, Glynnis Breytenbach, sê Zondo se bydraes om die Grondwet en die oppergesag van die reg te handhaaf, sal nie vergeet word nie. Breytenbach het regter Mandisa Maya gelukgewens met haar aanstelling as volgende hoofregter. Sy sê Maya bring baie ervaring na die amp en het ‘n noemenswaardige bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse regspraak.
# Die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame vra opbouende dialoog oor die uitwerking van rassisme op skole. Dit volg na bewerings van rassisme teen 12 leerders van die Pretoria High School for Girls wat dissiplinêr verhoor gaan word. Die sekretaris-generaal, Matakanye Matakanye, het aan die SABC gesê ouers moet hulle kinders opvoed en aanspreeklik gehou word. Hy vra die name van die leerders en hulle ouers moet bekend gemaak word:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het sy meegevoel betuig met die gesinne van drie mense wat dood is in ʼn brand in die Tuinroete Nasionale Park in Knysna. Die brand het in die Tree Top Chalet uitgebreek en twee personeellede van SANParke en een ander persoon is dood. Die departement se woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê die oorsaak van die brand word ondersoek:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-106-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Prinses Diana se briewe aan haar gesin se gewese huishoudster, Violet Collison, met die bynaam Collie, word Dinsdag deur Sworders in Stansted Mountfitchet, Essex, opgeveil. Die meeste is briewe wat Diana geskryf het om dankie te sê vir verjaarsdag- en Kersgeskenke aan William en Harry. Een handgeskrewe briefie is op 8 Julie 1981, drie weke voor haar troue met prins Charles, geskryf. Diana het dit op Buckinghampaleis se skryfpapier neergepen en sy vertel Collison daarin van die voorbereidings vir die troue. Collison is in 2013 op 89 oorlede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….