Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk vandag hoofsaaklik na nuus oor die Olimpiese Spele: Die byeenkoms in Parys begin vanaand presies 8.24 – 20.24 op ‘n 24-uur-horlosie. Die openingseremonie langs die Seinerivier begin half-agt en eindig eers om 11-uur. Plaaslike kroeë het toestemming om deurnag oop te bly vir die geskiedkundige geleentheid. Die beroemde sangeresse Celine Dion en Lady Gaga sal gedurende die opening ‘n duet lewer terwyl die aktrise Salma Hayek en die kletsrymer Snoop Dogg onder die laaste fakkeldraers is.
Die Springbok-sewes is intussen deur na die halfeindronde in Parys nadat hulle die finalis van die vorige Spele in Tokio, Nieu-Seeland, 14-7 verslaan het in die kwarteindronde. Die Blitsbokke het vroeg 14-nul voorgeloop danksy kaptein Selvyn Davids en Tristan Leyds se drieë. Nieu-Seeland het net voor rustyd gedruk en in die tweede helfte teruggeveg, maar die Bokke se verdediging was te goed. Suid-Afrika kom môre in die halfeindronde teen Frankryk te staan. Afrigter Philip Snyman het sy span se prestasie geloof:
‘n Lid van Suid-Afrika se vrouehokkiespan, Kayla Swart, sê die span is vol vertroue en glo ‘n medalje in Parys is moontlik. Die span spog met ses spelers wat aan die Olimpiese Spele in Tokio deelgeneem het. Suid-Afrika open sy veldtog Sondag teen Australië in Groep B. Hulle gaan in die groepfase ook teen Argentinië, Brittanje, Spanje en Amerika te staan kom. Swart, wat die Olimpiese kampioen Wayde van Niekerk se suster is, sê hulle gaan voluit op die speelveld:
Die wêreld se nommer een-tennisspeler, Iga Swiatek van Pole, begin môre haar veldtog met ‘n eersteronde-wedstryd teen die Roemeen Irina-Camelia Begu. Die tweede gekeurde Amerikaner Coco Gauff pak die Australiër Ajla Tomljanovic. Twee gewese nommer eens, Angelique Kerber van Duitsland en Naomi Osaka van Japan, meet ook kragte in die eerste ronde. Kerber, wat in 2016 in Rio silwer gewen het, beplan om ná die Spele uit te tree. Die tennis-kompetisie vind op Roland Garros plaas.
# En, ons sluit af met krieket: Die Proteas moet gou by toetskrieket aanpas wanneer hulle volgende maand na die Karibiese Eilande reis vir twee wedstryde teen die Windies. Die meeste spelers het laas in Desember teen Indië toetskrieket Indië gespeel en ‘n verswakte groep het in Februarie twee toetse in Nieu-Seeland gespeel aangesien gekontrakteerde spelers by die SA20 betrokke was. Toetsafrigter Shukri Conrad beskryf die gebrek aan toetsgeleenthede toe aan die werklikheid van die moderne spel wat oorheers word deur witbal-krieket:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….