Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste stry ‘n verlore stryd
# Saftu vra ‘n vinnige verhoor van Transnet se bestuurders wat aangekla word van bedrog
# En, die Olimpiese Spele begin vanaand 20.24
# Die Activists and Citizens Forum sê die opruiming van die Departement van Korrektiewe Dienste sal ‘n verlore stryd wees sonder politieke wil. Tronkbewaarders het Woensdag beslag gelê op honderde onwettige items, selfone, smokkelitems en televisiestelle tydens ‘n klopjag in die Johannesburgse Korrektiewe Sentrum, bekend as Sun City. Dennis Bloem van die forum sê oorbevolking in tronke is ‘n groot probleem:
# Die vakbondfederasie Saftu eis ‘n spoedige verhoor en tronkstraf vir twee voormalige bestuurders van Transnet en hulle medebeskuldigdes, wat aangekla word van bedrog met die nutsmaatskappy se begroting vir Covid-19. Hulle het na bewering die prys van asemtoetsers verhoog van 29-sent tot 29-rand-99-sent, wat Transnet byna 34-miljoen-rand gekos het. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, eis lang vonnisse om korrupsie te keer:
# Dube se handelshawe in KwaZulu-Natal het die afgelope vyf jaar meer as 200 hektaar grond bekom om die omgewing naby sy ontwikkelings te beskerm. Die doel is om ʼn Durbanse Aërotropolis van tien-duisend-hektaar te skep. Tagtig-persent van die nuwe grond is vleilande wat by die 854-hektaar kom wat reeds bewaar word. Die omgewingsbestuurder, Zama Dlamini, sê uitkomste is positief en sluit die teling van die mahem-kraanvoël in, asook die beskerming van die bedreigde Pickersgill-rietpadda. Hierdie spesies sal gereeld gemonitor word in samewerking met die Endangered Wildlife Trust en die King Shaka-internasionale lughawe.
# Olimpiese Spele: Die Paryse Spele begin vanaand presies 8.24 − 20.24 op ‘n 24-uur-horlosie. Die openingseremonie langs die Seinerivier begin half-agt en eindig eers om 11-uur. Plaaslike kroeë het toestemming om deurnag oop te bly vir die geskiedkundige geleentheid. Die beroemde sangeresse Celine Dion en Lady Gaga sal gedurende die opening ‘n duet lewer terwyl die aktrise Salma Hayek en die kletsrymer Snoop Dogg onder die laaste fakkeldraers is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-32-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-36-sent per vat.
# Ten slotte: Kuberbedrogskemas ontwikkel met persoonlike boodskappe wat dit meer geloofwaardig probeer maak, en uitvissing-elemente laat saamsmelt in massaveldtogte. Kaspersky berig die spelfoute in tradisionele kuberbedrog kom nie voor in hierdie pasgemaakte aanvalle nie, en maak dikwels betroubare bronne na. Onlangse voorvalle sluit in e-posse wat voorgee om van menslike hulpbrondepartemente te wees met realistiese name van versenders, maar wat lei na generiese uitvissing-vorms. Hibriede uitvissing, wat toegeneem het van Maart tot Mei, gebruik kunsmatige intelligensie vir oortuigende inhoud en verbeterde ontwerp. Kubermisdadigers verbeter e-posverpersoonliking en kultegnieke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….