Nuus 09:00
BULLETIN 26 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil meer onverwagte klopjagte by korrektiewe instellings hê
# Nog drie verdagtes word deur die polisie in KwaZulu-Natal doodgeskiet
# En rugby: Die Bul-losskakel Chris Smith sluit by ’n Franse klub aan
# Die DA sê smokkelgoedere in tronke ondermyn rehabilitasiepogings van gevangenes en stel die veiligheid van die land se gevangenisse in gevaar. Amptenare van die Departement van Korrektiewe Dienste en die polisie het Woensdagaand ‘n klopjag op die Johannesburgse Korrektiewe Sentrum, ook bekend as Sun City uitgevoer. Dwelms, alkohol, messe, selfone en WiFi-roeteerders was sommige van die items wat opgespoor is. Janho Engelbrecht van die DA sê pogings moet verskerp word om soortgelyke klopjagte by al die korrektiewe geriewe uit te voer:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het aansoek gedoen vir verlof tot appèl teen ‘n Wes-Kaapse Hooggeregshof-beslissing oor die geldigheid van ‘n kontrak. ‘n Kontrak is aan eZaga en drie ander maatskappye toegeken vir die regstreekse betaling van toelaes aan universiteitstudente en TVET-kolleges vir vyf jaar. NSFAS wil die kontrakte beëindig na ‘n Werksmans-verslag die opsegging aanbeveel het weens verkrygingsonreëlmatighede. eZaga het egter hof toe gegaan met ‘n dringende aansoek vir ‘n interdik wat toegestaan is. Die skema sê die betaling van studentetoelae word nie geraak nie.
# Drie verdagtes wat vir minstens tien moordsake gesoek is, is vroeg vanoggend in ‘n skietery met die polisie in die KwaDlangezwa-gebied in Empangeni, KwaZulu-Natal doodgeskiet. Minstens sewe mense is die afgelope week in die provinsie in skietgevegte met die polisie dood, insluitend drie in Inanda. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda sê die verdagtes is in ‘n huis in KwaDlangezwa opgespoor waar hulle geskuil het:
# Amerika se Departement van Justisie het twee topleiers van die Sinaloa-kartel gearresteer. Dis een van die grootste misdaadgroepe in Mexiko. Die kartel se medestigter, Ismael Zambada Garcia ook bekend as El Mayo, en Joaquin Guzman Lopez, seun van die ander medestigter, is in El Paso, Texas, vasgetrek. As leiers van die kartel se misdadige bedrywighede, staar albei talle aanklagte in Amerika in die gesig. Dit sluit in die vervaardiging van fentaniel en handelsnetwerke. Die departement het verlede jaar meer as 20 lede van die Sinaloa-kartel in hegtenis geneem.
# Rugby: Losskakel Chris Smith verlaat die Bulle vir die Franse klub, Oyonnax. Hy het 96 wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap, Kampioenebeker en Curriebeker gespeel sedert hy in 2020 by hulle aangesluit het en het 634 punte aangeteken. Smith sê hy is dankbaar vir die ervaring die afgelope vyf jaar want in hierdie tyd het hy die beste herinneringe op en van die veld af gemaak. Volgens die 29-jarige hoor hy net goeie dinge van Franse rugby en hy sien daarna uit om by sy nuwe spanmaats aan te sluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-954-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-370-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….