Nuus 08:00
BULLETIN 26 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Judges Matter sê Mandisa Maya se aanstelling as hoofregter is deurslaggewend
# Sakeliga is van mening die Wet op Openbare Verkryging is ongrondwetlik
# En, Kamala Harris sê sy sal nie swyg oor die lyding in Gaza nie
# Judges Matter sê Mandisa Maya se aanstelling as hoofregter is ‘n betekenisvolle oomblik vir Suid-Afrika en die regbank. Die adjunkhoofregter volg Raymond Zondo op wat die einde van volgende maand aftree nadat hy sedert 2022 aan hoof van die regbank gestaan het. Maya is die eerste vrou in die land se geskiedenis wat dié posisie beklee. Judges Matter se woordvoerder, Mbekezeli Benjamin, het aan die SABC gesê hy het vertroue in Maya se leierskap:
# Die sake-organisasie, Sakeliga, sê die Wet op Verkryging is skadelik, ongrondwetlik en ʼn resep vir versnelde staatsverval. Die wet se doel is om ʼn enkele raamwerk te skep wat openbare verkryging by alle staatsinstellings glo met die nodige doeltreffendheid, koste-doeltreffendheid en integriteit sal reguleer. Sakeliga sê die wet sal staatsinstellings se verkrygingskeuses ernstig beperk terwyl dit korrupsie op ʼn ongekende skaal moontlik maak.
# Die EFF in Gauteng het die vermeende rassisme by Pretoria High School For Girls veroordeel. Twaalf leerders is geskors na bewerings van rasse-mikro-aggressie op ʼn wit WhatsApp-groep. Daar word ook beweer wit leerders kry voorkeurbehandeling en reëls word tot hulle voordeel toegepas. Dumisani Baleni van die EFF sê dis duidelik rassisme beïnvloed die skool se kultuur:
# Amerika se visepresident Kamala Harris sê sy sal nie stilbly oor die swaarkry in Gaza te midde van die Israel-Hamas-oorlog nie. Sy het gister die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu by die Withuis ontmoet en kommer uitgespreek oor die humanitêre situasie in Gaza. President Joe Biden het die eerste minister vroeër ontmoet. Harris het Netanyahu aangemoedig om die skietstilstand wat tans op die tafel is, te aanvaar:
# Olimpiese Spele: Die wêreld se nommer een, Iga Swiatek van Pole, begin môre haar Parys-veldtog met ʼn eersteronde-wedstryd teen die Roemeen, Irina-Camelia Begu. Tweede gekeurde Coco Gauff, wat Amerika se vroulike vlagdraer by die openingseremonie is, takel die Australiër, Ajla Tomljanovic. Die wêreld se gewese nommer een, Angelique Kerber van Duitsland, en Naomi Osaka van Japan meet ook kragte in die eerste ronde. Kerber, wat in 2016 in Rio de Janeiro silwer gewen het, beplan om ná die Olimpiese Spele uit te tree. Die tennis-geleentheid vind op Roland Garros plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-66-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-373-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….