Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika sal op 1 September sy eerste vroulike hoofregter hê nadat die presidensie aangekondig het dat adjunkhoofregter Mandisa Maya vir Raymond Zondo opvolg, wat aan die einde van volgende maand uittree.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Stel ondersoek in na beweerde ANC-nepotisme in die Johannesburgse vullisverwyderingsdiens.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die DA en VF Plus wil die EFF-raadslid, Omakeng Ramabodu strafregtelik laat aankla wat na bewering op ’n Tshwane-stadsraadsvergadering gesê het hy wil graag ’n “Boer moer” omdat hy “die bloed van ’n Afrikaner” soek.
Tweedens skryf die koerant oor die Springbok-skrumskakel, Morné van den Berg se harde werk om die hoogste sport te bereik.
En laastens is daar nuus oor die 15-maande oue Zihanku van Aarde van Randfontein wat ernstige brandwonde opgedoen het. Hy het byna ten volle herstel.
# The Star en Pretoria News:
Skryf hoofregter Raymond Zondo wat allerweë beskou is as president Cyril Ramaphosa se laaste verdedigingslinie, se termyn verstryk aan die einde van volgende maand.
En tweedens berig die koerant Zondo se opvolger, Mandisa Maya stel ‘n nuwe maatstaf vir Suid-Afrikaanse vroue.
# Sowetan:
Berig die chaos in die Tshwane-metroraad is ‘n terugslag vir dienslewering en skryf ook oor die aanrandingsdreigement van Ramabodu.
# En The Citizen:
Skryf medici is verheug oor die Hooggeregshof se skrapping van sekere dele van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die veroordeelde moordenaar en verkragter, Thabo Bester se lang lys eise wat hy by die Hooggeregshof in Bloemfontein ingedien het. Bester sê dit gaan oor sy eie veiligheid en ‘n regverdige verhoor.
En tweedens is daar nuus oor die voormalige Olimpiese kampioen, Wayde van Niekerk wat vanaand saam met sy suster Kayla Swarts op ‘n boot op die Seinerivier sal wees tydens die opening van die Spele. Swarts is ‘n reserwe van die SA vrouehokkiespan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Kaapstad is besig om voor te berei vir nog ‘n storm. Die kouefront sal die Kaap môre tref en tot Maandag duur. Die Kaapstad-metro is van môre af op gereedheidsgrondslag om hulp te verleen.
En tweedens skryf die koerant oor die 11-jarige Lesedi Mokgalaka van die Laerskool Brackenfell wat ná ‘n hokkiewedstryd inmekaargesak het en vermoedelik aan ‘n hartaanval oorlede is.
# En Cape Times:
Skryf adjunkpresident Paul Mashatile steur hom skynbaar nie veel aan die DA se klagtes nie.
En berig die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa het as LP bedank in die lig van die gunsloonsaak teen hom.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Gqeberha se misdaadgeteisterde sakekern sal binnekort meer as 100 “oë in die lug” hê met die installasie van 24-uur voertuignommerplaat-herkenningstegnologie.
En tweedens skryf die koerant ‘n sakeman, Kelvin Naidoo herstel tans ná ses dae van intense onderhandelinge met sy ontvoerders wat ‘n losprys van 10-miljoen-rand geëis het. Hy is Woensdagnag vrygelaat.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die grootste deel van die KwaZulu-Natalse provinsiale begroting word aan onderwys afgestaan.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Headspring Investment wil opleiding en inligting verskaf aan die gemeenskap van Stampriet oor die veiligheid en voordele van die uraanmynprojek buite die dorp.
En tweedens skryf die koerant ‘n prokureur van Windhoek, Uno Katj wat in die Hooggeregshof appél aanteken teen ‘n sodomie-saak, sê hy het die regering in sy visier.