Nuus 06:00
BULLETIN 26 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mandisa Maya word aangestel as Suid-Afrika se eerste vroulike hoofregter
# Die ANC-jeugliga sê Zizi Kodwa het die regte ding gedoen deur as LP te bedank
# En Olimpiese Spele: Die Blitsbokke is deur na die halfeindronde in Parys
# President Cyril Ramaphosa het adjunkhoofregter Mandisa Maya met ingang een September aangestel as Suid-Afrika se eerste vroulike hoofregter. Sy sal oorneem by regter Raymond Zondo, wie se ampstermyn einde volgende maand verstryk. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Maya se aanstelling volg op die president se raadpleging van die Regterlike Dienskommissie en gesprek met leiers van politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is:
# Die ANC-jeugliga sê die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa het die regte ding gedoen deur as parlementslid te bedank. Hy staan tereg op aanklagte van korrupsie. Dit volg nadat hy na bewering sowat 1,6-miljoen-rand van sy medebeskuldigde, ‘n voormalige bestuurshoof van die saketegnologiemaatskappy, EOH, Jehan Mackay, ontvang het in ruil vir ‘n IT-sagteware-tender. Dit was tussen 2015 en 2016 gedurende sy tyd as die ANC se nasionale woordvoerder. Die Jeugliga sê Kodwa moet daarop fokus om sy naam in ere te herstel en as hy onskuldig bevind word, kan hy terugkom en dien.
# Die GOOD-party sê die Stad Johannesburg se goedkeuring van ‘n lening van 2,5-miljard-rand van die Franse Ontwikkelingsbank plaas ‘n onnodige finansiële las op inwoners. Die lening, wat gesteun is deur ActionSA, die DA en die ANC, is teengestaan deur GOOD weens ‘n gebrek aan deursigtigheid en projekplanne. Matthew Cook van die party sê die lening oortree die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en is die gevolg van transaksie-politiek:
# Die hoogste hof oor regte in Europa het beslis ‘n wet in Frankryk, wat bepaal kliënte van sekswerkers kan strafregtelike vervolg word, oortree nie die Europese Konvensie oor Menseregte nie. ‘n Groep van 261 mans en vroue wat sekswerk doen het hulle gewend na die Europese Hof vir Menseregte oor die wet van 2016, wat mense wat seks koop blootstel aan boetes van tot 30-duisend-rand, en vir herhaalde oortreders meer as verdubbel kan word. Die wet, wat selde toegepas word, word gesien as ‘n groot stap vorentoe deur aktiviste was gehoop het om prostitusie uit te roei.
# Olimpiese Spele: Die Springbok-sewes is deur na die halfeindronde in Parys nadat hulle Nieu-Seeland, die 2020 Spele in Tokio se finaliste, met 14-7 verslaan het. Die Blitsbokke was in die eerste helfte voor met 14-nul, danksy kaptein Selvyn Davids en Tristan Leyds se drieë. Nieu-Seeland het net voor rustyd en in die tweede helfte teruggeveg, maar die Bokke se verdediging was te goed. Suid-Afrika kom môre in die halfeindronde teen Frankryk te staan. Afrigter Philip Snyman het sy span se prestasie geloof:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-678-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-363-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Vrag vonkelwyn wat op ‘n skeepswrak langs die kus van Swede ontdek is, was vermoedelik bestem vir ‘n Russiese tsaar. Die wrak van die 19de eeuse seilskip is onlangs in die Baltiese See gevind, waar duikers meer as 100 bottels vonkelwyn getel het. Die leier van die Poolse Baltitech-duikspan, Tomasz Stachura, het aan die BBC gesê die vonds is ‘n skat. Die kleibottels met die naam van die Duitse maatskappy Selters daarop het die span gehelp om die wrak te dateer tot tussen 1850 en 1867.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….