Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU verwelkom Zizi Kodwa se bedanking uit die Parlement
# Die EFF beskuldig die Stad Tshwane van rasse-vooroordeel in bestuursaanstellings
# En, motorsport: Estaban Ocon sluit aan by die Amerikaanse F1-span Haas
# COSATU verwelkom die bedanking van die korrupsie-beskuldigde voormalige minister van Sport, Zizi Kodwa, as lid van die Parlement. Die vakbondfederasie het voorheen die ANC gekritiseer vir Kodwa se ontplooiing, en gesê dit bots met die party se opsystaan-beleid. Woordvoerder Zanele Sabela sê Kodwa se bedanking stuur ‘n sterk boodskap oor aanspreeklikheid. Sy vra ander partye om die voorbeeld te volg en hulle verteenwoordigers aanspreeklik te hou:
# Die EFF beskuldig die Stad Tshwane daarvan dat hy beplan om van 37 swart bestuurders ontslae te raak. Die party beweer ses wit aanstellings van die Vryheidsfront Plus en DA is geplaas in die insleep-afdeling van die metropolisie. Burgemeester Cilliers Brink word gekritiseer dat hy na bewering sy sakevennote met tenders bevoordeel. ‘n Raadslid van die EFF, Obakeng Ramabodu, het tydens ‘n raadsvergadering gesê die DA-koalisie vervang swart werkers met Afrikaners en sulke optrede is rassisties:
Nog munisipale nuus is dat die Stad Johannesburg ‘n lening van 2,5-miljard-rand verkry het van die Franse Ontwikkelingsagentskap. Die EFF het vroeër die maand die aanvaarding van die lening gekeer nadat die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Dada Morero, nie sleutelbesonderhede gegee het oor die doel van die lening of die voorwaardes nie. Dit is nou goedgekeur met die steun van die EFF, die ANC en verskeie ander partye, waaronder die DA, wat voorheen bekommerd was oor die finansiële gevolge. Dit is deel van die begroting van 2023/’24 om kapitaalbesteding te steun, en sal oor ‘n tydperk van 15 jaar terugbetaal word.
# Die Amerikaanse Demokratiese Party se voorbereidings vir die verkiesing in November is nou in hoogste versnelling nadat president Joe Biden onttrek en sy steun aan sy adjunk, Kamala Harris, toegesê het. Die party se reëlskomitee beplan om Harris reeds teen volgende week as presidentskandidaat te benoem en nie te wag tot die nasionale konvensie wat op 19 Augustus begin nie. Sy sal ook teen die sewende haar adjunk-presidentskandidaat aanwys. Volgens die jongste meningsopnames is daar min te kies tussen Harris en die Republikeinse benoeming, Donald Trump.
# Motorsport: Die Franse renjaer, Esteban Ocon, het ‘n meerjarige kontrak onderteken om vir Haas te jaag. Die Amerikaanse Formule Een-span het dit bekendgemaak net voor die Belgiese Grand Prix. Die 27-jarige skuif oor van Alpine as ‘n plaasvervanger vir Kevin Magnussen wie se vertrek vroeër die maand bevestig is. Ocon het al in 146 Grands Prix gejaag en sluit aan by sy vierde F1-pan. Sy en Alpine se enigste oorwinning was met die Hongaarse Grand Prix in 2021.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-602-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….