Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kondig Zizi Kodwa se onmiddellike bedanking uit die Nasionale Vergadering aan
# Die Stad Johannesburg verkry ‘n lening van 2,5-miljard-rand
# En, die Olimpiese Spele: Rafael Nadal en Novak Djokovic stuur af op ‘n ontmoeting in die tweede ronde
# Die ANC het die onmiddellike bedanking aangekondig van die voormalige minister van Sport, Zizi Kodwa, uit die Nasionale Vergadering te midde van korrupsie-aantygings. Die sekretaris-generaal van die party, Fikile Mbalula, het bevestig sy bedankingsbrief is ontvang en aanvaar, en hy het die ANC se beste wense aan Kodwa oorgedra. Kodwa word daarvan aangekla dat hy 1,68-miljoen-rand ontvang het van die sakeman Jehan Mackay in ruil vir ‘n IT-sagtewaretender. Hulle is vrygelaat op borgtog van 30-duisend-rand, en moet op 21 Augustus na die hof terugkeer.
# Die Stad Johannesburg het ‘n lening van 2,5-miljard-rand verkry van die Franse Ontwikkelingsagentskap. Die EFF het vroeër die maand die aanvaarding van die lening gekeer nadat die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Dada Morero, nie sleutelbesonderhede gegee het oor die doel van die lening of die voorwaardes nie. Dit is nou goedgekeur met die steun van die EFF, die ANC en verskeie ander partye, waaronder die DA, wat voorheen bekommerd was oor die finansiële gevolge. Dit is deel van die begroting van 2023/’24 om kapitaalbesteding te steun, en sal oor ‘n tydperk van 15 jaar terugbetaal word.
Intussen versoek OUTA die politieke leierskap van Johannesburg om bekwame leiers aan te stel te midde van oproepe deur die Joburg Crisis Alliance dat Kabelo Gwamanda as burgemeester moet bedank. Uitvoerende hoof Wayne Duvenhage benadruk die behoefte aan behoorlike leierskap om met burgerlike gemeenskapsgroepe saam te werk om kwessies soos korrupsie, wanbestuur en verkwistende uitgawes aan te pak. Hy versoek inwoners om verandering te eis vir ‘n beter toekoms:
# Olimpiese Spele: Die veelmalige Grand Slam-kampioene, Novak Djokovic van Serwië en Rafael Nadal van Spanje, se loting beteken dat hulle kan ontmoet in die tweede ronde van die tenniskompetisie in Parys. Nadal, wat op twee vorige Spele goud verower het, neem die laaste keer aan ‘n Spele deel. Djokovic begin sy aanslag teen die Australiër Matthew Ebden. Nadal, wat 14 van sy 22 Grand Slam-titels op Roland Garros se kleibane gewen het, kom teen Marton Fucsovics van Hongarye se staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-42-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die gewese Bafana Bafana-afrigter, Pitso Mosimane, sê sokker is ‘n kragtige instrument om verandering te bring en ʼn platform om die volgende geslag te onderrig en te inspireer. Die Universiteit van Johannesburg het hom met ʼn ere-doktorsgraad vereer. Die instelling gee erkenning aan Mosimane se uitstaande bydrae tot sport, sy besondere leierskap en toewyding aan maatskaplike opheffing. Mosimane, wat ook Mamelodi Sundowns en Al Ahly afgerig het, sê hy is geëerd om op hierdie manier vereer te word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….