Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Julie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Eskom sal sy afnemende steenkoolvermoë vervang met skoonenergie-moontlikhede in ooreenstemming met die Oorgang na Billike Energie. Die kragvoorsiener se hoofbestuurder vir primêre energie, Dan Mashigo, het op ‘n steenkool en energie-oorgangskonferensie gesê Eskom se 20-gigawatt-plus opwekkings-projekpyplyn sluit ses-gigawatt sonkragselle en vier gigawatt hibriede windsel-batteryprojekte in. Daarby bevat die program ook vier-gigawatt gas-na-krag, drie gigawatt kernkrag, en 3,5-gigawatt hidro-, wind- en batteryberging.
Die steenkoolgroep Seriti Resources is intussen besig met ‘n oorgang na windenergie deur Seriti Green. Bouwerk is reeds aan die gang aan die eerste projek, ‘n windplaas in Mpumalanga van 4,8-miljard-rand. Die projek van 155-megawatt is die eerste fase van ‘n 900-megawatt-projek wat Seriti oor die volgende drie jaar gaan oprig. Die uitvoerende hoof van Seriti Resources, Mike Tete, sê toekomstige projekte sal verder in ooreenstemming gebring word met hulle groen-energie projekte:
# En die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, loof president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wet op Klimaatsverandering. George noem dit ‘n beslissende stap in Suid-Afrika se klimaatstrategie, gemik op die vermindering van uitlatings, die verbetering van veerkragtigheid en die skepping van groen werksgeleenthede. Die wet gee ‘n oorkoepelende raamwerk vir nasionale klimaatsoptrede en versterk koördinering met globale beloftes kragtens die Ooreenkoms van Parys. George beklemtoon die behoefte aan samewerkende instelling waarby alle sektore betrokke is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….