Nuus 11:00
BULLETIN 25 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n RGN-opname toon MIV is besig om te daal in Suid-Afrika
# Greenpeace Africa sê die Wet op Klimaatsverandering is ‘n stap nader aan skoner ekonomieë
# En, ‘n vragskip met nege bemanningslede sink tydens tifoon Gaemi in Taiwan
# ‘n Opname deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing toon die voorkoms van MIV in alle ouderdomsgroepe het van 14-persent in 2017 tot 12,7-persent in 2022 afgeneem. Dit beteken ‘n afname van 7,9-miljoen tot 7,8-miljoen mense wat met MIV saamleef. Die sesde Suid-Afrikaanse MIV-voorkoms-, omvangs- en gedrags-opname toon ook vroue word proporsioneel meer deur MIV geraak, met ‘n voorkoms van 16,4-persent vergeleke met 8,8-persent onder mans, vir alle ouderdomme. Die land het ‘n toename in teen-retrovirale behandeling aangemeld wat van 63,7-persent in 2017 tot 80,9-persent in 2022 gestyg het.
# Greenpeace Africa loof die Wet op Klimaatsverandering as ‘n belangrike stap nader aan skoon ekonomieë. President Cyril Ramaphosa het die wet bekragtig, wat ‘n nasionale reaksie daarstel vir versagting en aanpassing. ‘n Voorspraakmaker vir klimaat en energie, Siyabonga Myeza, het aan die SABC die wet se rol uitgelig in Suid-Afrika se klimaatsleierskap, vir ‘n regverdige, deursigtige en billike oorgang op die vasteland:
# Die GOOD-party sê die stad Kaapstad se munisipale beplanningsverordening lyk vir hom na ‘n apartheidsmentaliteit oor die plek van bekostigbare behuising. Die verordening reguleer ontwikkeling en grondgebruik in Kaapstad. Die party se hoofsekretaris, Brett Herron, sê dis ruimtelike onbillikheid:
# ‘n Vragskip wat in Tanzanië geregistreer is, met nege burgers van Mianmar aan boord, het aan die kus van die suidelike hawestad Kaohsiung in Taiwan gesink tydens die tifoon Gaemi. Die tifoon, wat swaar reën, sterk wind en gevaarlike stormweer tot gevolg gehad het, het minstens drie lewens geëis en meer as 200 mense is beseer. Amptenare sê drie ander buitelandse vaartuie het tydens die storm gestrand, maar is veilig. Reddingsoperasies is opgeskort met wind wat te sterk is en swak sigbaarheid.
# Rugbyliga: Australië bied 2026 se her-organiseerde Wêreldbekertoernooi aan. Dit sou volgende jaar in Frankryk plaasvind, maar die wêreldbeheerliggaam moes die kalender herrangskik nadat die organiseerders wees finansiële redes onttrek het. Sestien spanne sou aanvanklik aan 2025 se manstoernooi deelgeneem het, maar dit is tot tien ingekort vir 2026, en agt elk vir die vroue- en rolstoelkompetisies. Die toernooie vind in Oktober en November 2026 plaas, met van die wedstryde wat in Papoea-Nieu-Guinee gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-200-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….